Mnr. Rudi Engelke, ’n groenteboer in die omgewing, was byna ’n 22,5 kW-waterpomp en elektriese motor op Nuwejaarsdag kwyt. Was dit nie vir die traangasbom en selfoon-alarm wat hy in sy gepantserde pomphuis ingebou het nie, sou misdadigers die toerusting gesteel het. Die onsuksesvolle diewe het daarin geslaag om ’n gat in die muur van die pomphuis te kap en die staalhek oop te knip. Engelke moes gevolglik R80 000 opdok vir vier sekuriteitswagte om vir twee dae die pomphuis op te pas sodat besproeiing kon voortgaan aangesien niemand vir twee dae na die voorval beskikbaar was om die skade te herstel nie.

Die hek van mnr. Rudi Engelke se pomphuis is omstreeks 01:00 op 1 Januarie 2019 met slot-knippers oopgeknip, maar traangas wat in die pomphuis geïnstalleer was het die diewe in hul spore gestuit. Die diewe wou hul hande lê op koperdraad in die elektriese motor in die pomphuis. Foto: Verskaf

Engelke moes ook agt sekuriteitswagte vir twee maande teen R10 000 per maand per wag aanstel om sy 25 ha aartappels op te pas. “Ons kontant het opgeraak en ons moes die wagte laat gaan. Daardie aand is minstens drie ton se aartappels deur nagenoeg 16 mans gesteel wat oor ons muur geklim het,” vertel Engelke. Die aartappelprys was op daardie stadium ongeveer R8/kg, en gevolglik beloop dié verlies meer as R20 000.

Moord op Versoeningsdag

Die misdadigheid in hierdie omgewing is egter nie tot skade aan eiendom en die steel van produkte beperk nie. Op 16 Desember is mnr. Nicolaas Strydom, ’n plaaswerker op mnr. Johan Terblanche se Kleinensorgen-boerdery, doodgeskiet nadat 12 mans die plaas geteiken en kontant geëis het.

Die gemeenskap is nou besig om gevorderde selfverdedigingsopleiding te ontvang, wat die hantering van vuurwapens insluit. Kinders en plaaswerkers word ook by hierdie opleiding betrek. Volgens mnr. Gunther Engelke, voorsitter van die Philippi-boerevereniging, laat die huidige situasie hulle geen ander keuse nie. “Die misdadigers is nie meer gepla deur wetstoepassers nie. Hulle steel net wat hulle wil en respekteer geen grense of privaatheid nie. Politieke uitsprake wat verdeeldheid, onstabiliteit en onsekerheid aanhits help ook nie,” het Engelke gesê.

Verdeel eerder goed en kwaad

Engelke glo dat dié byna onuithoudbare situasie verander kan word indien alle gemeenskapslede saamstaan en die verdeeldheid wat tans deur politieke leiers tussen rasse aangehits word, eerder tussen wetsgehoorsame burgers en kriminele ingespan moet word. Só het hy tydens ’n gemeenskapsveiligheid-vergadering in Desember 2018 gesê. Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van veiligheid, het die vergadering bygewoon.

Op dié vergadering het Winde onderneem om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te nader om die aantal polisielede in Philippi te vermeerder en ’n satellietpolisiestasie op te rig om sigbare polisiëring te verhoog. Ná die voorval op 16 Desember verlede jaar het Winde weer aan lt.genl Khombinkosi Jula, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, geskryf en ’n reaksiestrategie en hulpbronplan in terme van misdaad in die omgewing versoek. “Ons het op hierdie stadium nog geen terugvoer ontvang nie en volg weekliks ons versoek by die kommissaris op,” het Winde gesê. 

Volgens lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die SAPD in die Wes-Kaap, word polisiebeamptes volgens die misdaad tendense en spesifieke areas se behoeftes ontplooi. “Basiese selfverdediging-vaardighede en die kennis van wat om te doen in ’n noodgeval is baie bruikbare vaardighede om aan te leer en ons moedig hierdie tipe opleiding vir die publiek aan,” het Traut aan Landbouweekblad gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.