Luidens ’n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Saama) is ’n totaal van 6 879 trekkers in die 12 maande van Oktober verlede jaar tot Oktober hierdie jaar verkoop.

Volgens Saama word dié toename gedryf deur die verwagte hoër aanplantings van mielies en sojabone in die 2018-’19-somerseisoen. Die Oesskattingskomitee voorspel dat die aanplanting van witmielies en sojabone met 8% kan toeneem, terwyl die aanplanting van geelmielies met 2% kan toeneem.

Volgens Saama benut boere ook die laer pryse van toerusting voor dit in die toekoms moontlik weer kan styg weens die onstabiele rand, wat vervaardigers kan noop om hul pryse aan te pas.

Die algemene prys van stropers en werktuie het die afgelope twee maande gedaal, maar volgens Agfacts, ’n organisasie wat met landboustatistieke werk, kan vervaardigers se pryse heel moontlik oor die kort termyn styg.

Luidens Agfacts se nuusbrief is daar gedurende Oktober vanjaar 817 trekkers verkoop, wat 13,9% meer is as die 717 trekkers wat verlede jaar in Oktober verkoop is.

Volgens Agfacts het die verkoop van trekkers in Suid-Afrika in 2012 ’n hoogtepunt bereik, wat 18% hoër was as die huidige verkoopsyfers, ten spyte daarvan dat dieselfde hoeveelheid trekkers vervaardig word.