Luidens die nuusbrief is in Julie vanjaar 368 trekkers verkoop teenoor 525 trekkers in Julie verlede jaar. Dié syfers sluit uitvoer uit.

Agfacts het interessante neigings in die mark vir gebruikte trekkers opgemerk. Benewens ’n toename in die kraglewering van dié trekkers, is hulle ook nuwer en van ’n beter gehalte. Dit het die prys van gebruikte trekkers hoër gedruk.

Luidens die nuusbrief kan die onstabiele rand veroorsaak dat die prys van stropers en werktuie styg.

Volgens die Suid-Afrikaanse landboumasjinerie-assosiasie (Saama) is daar twee faktore wat trekkerverkope demp: die onsekerheid in die mark wat veroorsaak word deur die huidige politieke klimaat, wisselkoers en finale oes, en die feit dat boere versigtig met hul geld te werk gaan.

Saama meen hoewel belanghebbendes in die bedryf verwag dat trekkerverkope teen die einde van die jaar sal toeneem, sal daar vanjaar waarskynlik tussen 15% en 20% minder trekkers verkoop word as die 6 700 trekkers wat verlede jaar verkoop is.

Oesskatting

Die oesskattingskomitee het die afgelope maand sy skatting vir die 2018-’19-mielie-oes aangepas tot 10,979 miljoen ton, wat 46 200 ton meer as sy vorige skatting van 10,933 miljoen ton in Junie was. Die komitee verwag ’n opbrengs van gemiddeld 4,77 t/ha op die 2,301 miljoen ha wat beplant is. Die totale mielie-oes sal na verwagting 12,2% laer as verlede jaar wees.

Die lewering van ander gewasse sal na verwagting ook daal. Die skatting vir die sonneblomoes het gedaal met 23,9%, terwyl die geskatte lewering van sojabone, grondbone en droëbone met onderskeidelik 24%, 66,9% en 4,3% gedaal het. Die lewering van graansorghum sal na verwagting met 33,9% toeneem.

Wat wintergewasse betref, word verwag dat 537 000 ha koring aangeplant is, wat 33 600 ha meer is as die 503 350 ha wat in die vorige seisoen aangeplant is. Na raming is 60,3% van die land se koring in die Wes-Kaap aangeplant en 23,2% in die Vrystaat.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.