Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma) sê die verkoopsyfers van trekkers en stropers was in 2019 teleurstellend en daar is geen twyfel dat die bedryf talle struikelblokke in die nuwe jaar sal moet trotseer nie.

Volgens mnr. Greg Cadman, voorsitter van Salma, is die aanvanklike aanduidings dat verkope in 2020 teen soortgelyke vlakke as 2019 sal wees.

“Die begin van die somerreënseisoen was moeilik. Buiten dat die seisoen baie laat begin het, veral in die westelike dele, het reën net kol-kol geval,” sê Cadman. “Die meeste aanplantings is nietemin nou afgehandel en volgehoue reën is noodsaaklik oor die volgende twee maande om die volle potensiaal van die aangeplante gewasse te verwesenlik.”

Altesaam 349 trekkereenhede is in Desember verkoop, wat 20% minder was as die 434 eenhede van die vorige Desember. Die verkoopsyfer van trekkers vir die 2019-kalenderjaar is ook aansienlik laer. Dit het met 22% gedaal teenoor die vorige jaar se syfers.

Stroperverkope van slegs drie eenhede in Desember 2019 is die helfte minder as die ses eenhede van die vorige Desember. Stroperverkope vir 2019 is ook heelwat laer, met ’n daling van 25% teenoor 2018 se syfers.