Phil Mohlahlane (62), voormalige uitvoerende hoof van die Land Bank, het sewe jaar tronkstraf gekry vir bedrog. Ruben Mohlaloga (45), ’n voormalige voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou en nou voorsitter van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa), is ’n effektiewe 20 jaar opgelê vir bedrog en geldwassery. Dinga Nkhwashu (40), ’n prokureur, moet 24 jaar tronk toe.

Die vonnisse is einde verlede week in die gespesialiseerde handelshof in Pretoria opgelê nadat die drie meer as ’n jaar gelede al skuldig bevind is dat hulle in 2008 onregmatig geld na ’n trustfonds van Nkhwashu se prokureurspraktyk oorgedra het. Die praktyk is ’n boete van R50 000 opgelê, opgeskort vir vyf jaar.

Die R6 miljoen wat vir arm plaaswerkers en ontwikkelende boere bedoel was, is onder die skudiges verdeel en onder meer gebruik om luukse motors en ’n plaas te koop. Mohlaloga het ’n BMW 118i ontvang en R2,2 miljoen is na die besigheidsrekening van die prokureursfirma oorgeplaas vir Nkhwashu se persoonlike gebruik.

Die drie het verlof gekry om teen die vonnisse te appelleer. Hulle moet hul hofstukke voor 1 Junie gereed hê. Hangende die appèlle is hul borgtog verleng. In die geval van Nkhwashu is die borgtog R100 000, vir Mohlaloga R70 000 en vir Mohlahlane R30 000.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.