Graaff, een van die land se grootste appel- en peerprodusente en voorsitter van Tru-Cape, was al ’n ontvanger van die OSH Reinecke-eerbewys, wat erkenning gegee het aan sy vermoë om vooruit te dink en die beste landboupraktyke te gebruik.

Witzenberg Properties samel al sedert vroeg 2019 inligting oor alternatiewe kragbronne in met die doel om daarvan op sy plase te gebruik. Nadat die plase se vereistes en die beskikbare opsies deeglik oorweeg is, is besluit om ’n fotovoltaïse sonpaneelaanleg op te rig wat krag aan twee van die besigheid se plase, Die Eike en Dennekruin, sal verskaf.

Met sonkrag kan Witzenberg Properties nie net sy koolstofspoor verminder nie, maar ook die verskaffing van krag aan sy primêre produksieareas waar boorde in die somer besproei word, stabiliseer.

Aangesien elektrisiteit al hoe duurder word en daar die afgelope paar jaar baie tegnologiese vooruitgang was, het sonkrag boonop meer bekostigbaar geword. Die gebruik van sonkrag sal dus help om Witzenberg Properties se produksiekoste te verminder.

Die eerste fase van die projek behels die installering van 1 904 sonpanele wat altesame 703 kW kan opwek. Witzenberg Properties het hiervoor ’n vennootskap met New Southern Energy aangegaan. Dié maatskappy gebruik van Solar Edge-wisselrigters wat dit moontlik maak om sonpanele individueel te monitor en die sonpaneelaanleg doeltreffender sal maak.

Graaff sê as al vier fases van die projek voltooi is, sal die sonpaneelaanleg sowat 2 400 kW opwek. Dit sal gekoppel wees aan ’n sentrale substasie met geïntegreerde kragopwekkers vir bystand.

Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape sê hulle glo die aanleg op Die Eike is die eerste in sy soort in dié gebied. “Ons kliënte in Suid-Afrika en oorsee sê vir ons hoe belangrik dit vir hul kliënte is om hul koolstofspoor te verminder. Daarom het Tru-Cape en sy belanghebbendes hulle daartoe verbind om minder nie-hernubare krag, water en plastiek te gebruik.”

Pienaar sê die belegging in sonkrag sal verseker dat die pakhuis en koelkamers deurlopend funksioneer en die koueketting dus nooit onderbreek word nie.