Hoewel die higiëne op die mark verbeter het, is die beloofde R5,8 miljoen wat in 2020 vir infrastruktuurverbetering bewillig is, nie bestee nie en die mark is steeds in ’n baie swak toestand. Die munisipaliteit het onder meer onderneem om ’n kragopwekker aan te skaf en om die rypmaakkamers op te gradeer. Volgens mnr. Julian van der Nat, verkoper by Farmer’s Trust, voer die munisipale bestuur aan dat daar nie kontant beskikbaar is om hierdie verbeteringe aan te pak nie.

Mnr. Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van die RSA Groep, is bekommerd oor die agteruitgang op die mark. “Die verloorders op die Tshwane-mark, weens die swak omstandighede, is die gebruikers van die mark – die produsente, agente en veral die kopers. Ons het ons eie private mark in Midrand in Junie oopgemaak toe die Tshwane-mark weens ’n positiewe Covid-geval gesluit is. Weens stadige verkope in Desember het ons Midrand weer gesluit en in die proses waardevolle lesse geleer. Dit gaan nie lank wees voordat die private sektor ’n permanente oplossing vir hierdie situasie vind nie.”

Privatiseer die bestuur

Volgens Van der Nat het die munisipaliteit aangedui dat daar planne is om ’n private maatskappy aan te stel om die bestuur van die mark oor te neem, maar die munisipaliteit het nog nie hierdie inligting amptelik bekend gemaak nie.

Van der Nat meen dit is ’n stap in die regte rigting, maar geen waarborg van beterskap nie. “Ons moet baie seker wees dat die maatskappy wat die bestuur oorneem, bo verdenking en bekwaam genoeg is om so ’n perseel te bestuur. Indien daar bedrog en nepotisme by hierdie proses betrokke is, gaan ons moontlik nog swakker daaraan toe wees.”

Die Tshwane-mark se maandelikse omset is in die omgewing van R300 miljoen, wat meebring dat die munisipaliteit maandeliks ongeveer R15 miljoen se inkomste slegs van kommissie op verkope verdien. Die munisipaliteit verdien ook ’n aansienlike inkomste uit die verhuring van kantoorruimte en ander geriewe op die mark, wat op ’n perseel van ongeveer 30 000 m2 is.