Hierdie mark is die tweede grootste in Suid-Afrika met ’n omset van nagenoeg R3 miljard per jaar. Die mark verdien ongeveer R150 miljoen per jaar vir die Tshwane-munisipaliteit in ad valorem-kommissie, maar dit ontvang slegs R3 miljoen per jaar van die munisipaliteit vir onderhoud. Dít is slegs 0,1% van die mark se omset en 2% van die inkomste wat die munisipaliteit uit die mark verdien.

Sommige rypmaakgeriewe en verkoelingsgeriewe word al ’n dekade of langer nie onderhou nie. “Onderhoud wat ’n paar honderdduisend rand per jaar sou kos, gaan nou lei tot herstelwerk wat miljoene rande kos,” sê mnr. Julian van der Nat, voorsitter van die Instituut vir Markagente van Suid-Afrika (IMASA) op die mark.

Om hierdie situasie te probeer omswaai, het die instituut se tak op die Tshwane-varsproduktemark vandeesweek (27 Januarie) met die Tshwane-stadsraad, die mark se bestuur, Aartappels Suid-Afrika, verteenwoordigers van onafhanklike markagente en die landbouprodukte-agenteraad vergader. Die landoubesigheidskamer Agbiz het die vergadering bemiddel nadat versoeke van Imasa vir gesprekke geen vrugte afgewerp het nie.

Baie geriewe is onbruikbaar weens gebrekkige onder
Baie geriewe is onbruikbaar weens gebrekkige onderhoud. Hierdie toilette lek water en kan nie meer gebruik word nie.

Op rand van ondergang

“Ons wil die boodskap oordra dat die mark op die rand van ondergang is. Ons wil die owerhede help waar ons kan om die mark weer tot ’n trotse bate van die stad te herstel. Die feit dat ons na mekaar kon luister en die probleme op alle vlakke kon uitlig, is ’n stap nader aan ’n oplossing. Die oplossing gaan nie maklik wees nie. Ons het ’n komitee op die been gebring om die proses te bestuur.”

Die komitee vergader weer op 10 Februarie. “Ons sal op hierdie vergadering ’n aksieplan bespreek en die voorrangsake uitwys wat dringend aandag verg,” sê Van der Nat.

Mnr. Tshifhiwa Madima, hoof van die varsproduktemarkte-afdeling van die Tshwane-munisipaliteit, kon nie vir kommentaar bereik word nie.