“Gisteraand het ons die winkels wat noodsaaklike dienste in ons klein dorpie lewer, ge-flowerbomb,” skryf Anli Wahl, plaaslike blomkunstenaar, op Instagram. Sy het saam met Marcel Augustyn-Clark, ’n binnenshuise ontwerper, gewerk. Adene Nieuwoudt, blomboer van Wolseley, het al die blomme geskenk. Sy produseer onder meer ’n reuse-verskeidenheid dahlias.

“Adene het vir ons ’n lorrievrag blomme gegee van troues wat weens Covid-19 afgestel is. Ons kon dit aan die ouetehuis gee en gebruik soos ons goed dink.”

Die doel van die verfraaiingsoefening?

“Mag ons altyd die mooi rondom ons raaksien, ongeag die omstandighede. Wees goedhartig en vrygewig, maar bo alles, staan saam in die naam van blomme!” skryf Anli.

Adene sê die twee bloemiste was omtrent geïnspireer en het laatnag en vroegoggend gewerk om iets mooi te midde van die internasionale ramp te skep. “Anli en Marcel het liefde, geluk en hoop aan Tulbagh gebring in die vorm van blommerangskikkings.”

Marcel beskryf Adene se blommegeskenk as ’n “enorme geskenk”.

“Dit was ongelooflik om die blomme te doen (terwyl ons heeltyd ons afstand gehou het), te vergeet van die somberheid en te weet dat alles binnekort weer wel sal wees.” 

Verskeie mense het op Instagram gereageer op dié onbaatsugtige gebaar.

“Dit het my dag gemaak om die blommerangskikkings reg oor die dorp te sien,” skryf een gebruiker op Instagram. “Dankie dat julle iets so spesiaal gedoen het vir diegene wat nog moet werk om seker te maak die gemeenskap kry wat hulle nodig het tydens die inperking.”