Die Instituut vir Armoede-, Grond- en Landboustudies (PLAAS) aan die Universiteit van Wes-Kaapland het ’n opleidingsessie vir joernaliste aangebied oor die verskillende kwessies wat verband hou met grondhervorming en die talle vrae daaroor.

Prof. Ruth Hall, ’n kenner verbonde aan die instituut, het tydens die sessie aangedui dat as grondhervorming voortgaan teen die pas wat tans gehandhaaf word, “dit ’n verdere 35 jaar sal neem om die eerste groep grondeise (wat van 1994 tot 1998 ingedien is) af te handel”. 

“Met die grondeiseproses wat weer in 2014 vir vyf jaar tot 30 Junie 2019 oopgestel is, is 161 052 eise reeds teen 13 Julie 2016 ingedien. As ons dié syfer ook in ag neem, kan dit twee eeue duur om grondeise in Suid-Afrika af te handel as die huidige pas volgehou word.” 

Beloftes en begrotings

“Politieke beloftes is al gemaak om die grondeise af te handel, maar dis nie duidelik hoe dit gedoen gaan word nie,” sê Hall. Hoewel die staat aandui dat die meeste van die eerste sarsie eise toegestaan is, is ’n groot deel daarvan nog nie afgehandel nie, sê sy, want die grond is nog nie aan nuwe eienaars toegeken of oorgedra nie. Een van die redes daarvoor is grootskaalse agterstande ten opsigte van begrotings. Boonop word die geld wat vir grondhervorming beskikbaar gestel word, sedert 2008 stelselmatig minder.

Op Landbou.com is verlede jaar berig mnr. Justice Mnguni, ANC-LP, verwag dat selfs agt miljoen eise in die eisproses van 2014 tot 2019 ingehandig sou kon word (Lees: Miljoene grondeise moontlik op pad). 

Die Grondwethof het op 28 Julie 2016 beslis dat die wysigingswetsontwerp op die herstel van grondregte, wat die grondeiseproses weer oopgestel het, ongeldig is. Met daardie uitspraak is die nuwe eise wat intussen ingedien is, egter nie ongeldig verklaar nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.