Hoewel neerslae in dié dele lig behoort te wees, word swaar reën van 9 tot 11 Julie oor groot gedeeltes van die Swartland, die Stad Kaapstad, die aangrensende dele van die binneland en die Suid-Kaap verwag.

Mnr. Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige, sê weerstelsels dui tans aan dat tot 40 mm of meer oor dié gebiede moontlik sal wees. Die stelsel kan ook hoog teen die Weskus op reën veroorsaak. “Neerslae van meer as 20 mm is moontlik oor gedeeltes van Namakwaland en die Boesmanland. Dit wil voorkom asof dit verder in die westelike binneland selfs beter neerslae kan bring as vorige stelsels.”

Van den Berg sê die stelsel kan tot ’n mate verligting bring vir distrikte soos Calvinia en Williston, wat onder erge droogtetoestande gebuk gaan. Reën is ook moontlik oor Carnavon en Fraserburg. “Temperature gaan weer skerp daal en minimum temperature van benede -5°C kan oor die sentrale tot suidelike binneland voorkom vanaf 10 Julie.” 

Sneeu is moontlik oor die hooggeleë dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap, en oor veral die suidelike Drakensberge van 9 tot 11 Julie. “Dit wil voorkom asof redelike swaar sneeu moontlik is op hooggeleë gebiede van die suidelike en oostelike dele van die land. Swaar neerslae van sneeu sal verwelkom word in die wateropvanggebiede van Lesotho se groot opgaardamme.”

’n Volgende stelsel rondom 15 tot 18 Julie kan ook sneeu en ysreën tot gevolg hê oor die sentrale tot suidelike binneland, sê Van den Berg.

Gevare en waarskuwings

Van den Berg wil boere se aandag vestig op die volgende waarskuwings en gevare ten opsigte van die verwagte koue weer:

•          Uiters gevaarlike toestande vir kleinvee is moontlik rondom 9 tot 18 Julie oor die sentrale tot suidelike en suidoostelike dele van die land. Reën en moontlik sneeu, asook baie lae nagtemperature kan voorkom.

•          Temperature kan in die laaste week van Julie begin herstel, maar daar is ’n moontlikheid van reën in die eerste week van Augustus. Hoewel dit laat word vir kleinveeboere om te skeer, hou die weer ’n uiters hoë risiko in. Tans lyk dit steeds asof veral Julie baie gevaarlike toestande kan inhou, met toestande in Augustus wat ’n kleiner risiko kan inhou.

•          Baie sterk westewind gaan die frontale stelsels voorafgaan. Snelhede van tot 50 km/h is moontlik, wat die gevaar van wegholbrande verhoog.