Die kans vir goeie neerslae in die eerste week van Augustus het verswak, met rondom 5 mm wat oor die grootste deel van die winterreëngebied verwag word, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

“Meer reën (10 mm tot 30 mm) kan verwag word rondom middel en einde Augustus. Hoewel nie swaar neerslae verwag word nie, kan die verspreiding van reën van byna elke week tot tien dae gunstig wees vir produksie,”’ aldus Van den Berg.

Temperature behoort ook in dié tydperk matig tot koel te bly, wat gewasse se watergebruik kan verminder. “Dit kan wel veroorsaak dat gewasse se groeiseisoen verleng word en dat die piek van waterbehoefte later bereik gaan word,” sê Van den Berg. “Dit sal dalk nie raadsaam wees om gesaaides te veel te stimuleer met kunsmis nie en eerder ietwat konserwatief te wees om waterverbruik te beperk.”

Op langer termyn lyk vooruitsigte gunstig vir ligte neerslae in die eerste drie weke van September oor die winterreëngebied. Die kans vir verdere winterreën in die suidwestelike dele van die Noord-Kaap op plekke soos Springbok en Garies het verswak en min verdere winterreën word daar verwag.

Somerreën

Wat die somerreëngebied betref, sal minimum temperature tot einde Augustus baie laag bly, met redelik strawwe ryp wat oor die sentrale en suidelike binneland sal voorkom.

“Baie koue en nat toestande is moontlik rondom die middelste deel van Augustus oor die sentrale tot suidoostelike dele wat gevaar inhou vir veeboere,” maan Van den Berg. “Kleinveeboere (wat beoog om hul diere te laat skeer) moet versigtig wees vir koue en nat toestande middel Augustus.”

Volgens Van den Berg is die kanse goed dat die somerreënseisoen vanjaar op die normale tyd of net bietjie later as normaal kan begin. “Dit impliseer dat die oostelike dele van die land vanaf die einde van September reën kan verwag wat geleidelik weswaarts begin beweeg soos die seisoen vorder.”