Hoewel produksietoestande in die Sondagsrivier vanjaar baie goed is wag daar groot uitdagings op die bedryf, veral wat die uitvoermark betref, sê mnr. Hannes de Waal, besturende direkteur van die Sondagsrivier-­sitrusmaatskappy (SRCC).

Dit is veral die geopolitiese toestand in Rusland en sanksies wat deur sy voormalige bondgenote ingestel is wat groot onsekerheid vir die bedryf skep. Sowat 15% van alle Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere het in die verlede na Rusland gegaan.

Volgens de Waal het die Russiese geldeenheid baie teenoor ander geldeenhede verswak en het die verbruik van vars produkte daar met bykans 50% verminder vergeleke met historiese vlakke.

“Dit rand het op sy beurt teen die euro en Britse pond verstewig en dit kan ’n beduidende invloed op die randinkomste van sitrusboere hê wat vir supermarket in die Europese Unie pak. Die sterk Amerikaanse dollar is nietemin ’n ligpunt.”

De Waal sê dat sagtevrugte en sitrus wat in Europa geproduseer word, na die sanksies teen Rusland nou ook hulle weg na meer marke vind waarheen Suid-­Afrika vrugte uitvoer. “Die skerp daling in oliepryse skep ook onsekerheid in die Golflande wat ook ’n gewilde bestemming vir Suid-Afrikaanse vrugte is. Die lae oliepryse plaas Rusland onder nog groter druk. Daar het dus ’n hele paar nuwe faktore na vore gekom, wat nie voorheen bestaan het nie.”

Spanje

Hy sê met die uitsondering van sitrus wat in die Wes-­Kaap geproduseer word, sal vrugte uit die ander produksiestreke nie dié seisoen regstreeks na Spaanse hawens uitgevoer word nie. Vrugte sal wel deur ander Europese hawens Spanje steeds bereik. Die rede is glo dat die Suid­-Afrikaanse owerhede nie gelukkig is met die fitosanitêre reëlings wat deur die Spanjaarde ingestel is nie. Hulle is nie deursigtig met die maatreëls wat hulle ingestel het en nou toepas nie.

Suurlemoene

De Waal verwag nietemin dat die uitstekende vraag na suurlemoene wat verlede jaar rekordpryse behaal het, dié seisoen sal voortduur. Dit was veral weens die goeie vraag uit China. “Ons is egter bekommerd oor die lemoenmark. Gelukkig lyk sake op produksievlak baie goed en het boere ook streng spuitprogramme toegepas om die voorkoms van swartvlek tot die absolute minimum te beperk,” het de Waal gesê.