Brasiliaanse en Argentynse sojaboere word deur sowel droë as baie nat toestande geteister.

Luidens mediaberigte was die weerstoestande in die begin van die seisoen goed, maar in Desember het belangrike sojaproduksiegebiede in Brasilië baie min reën gekry en dié in Argentinië te veel reën.

Volgens weervoorspellings kan die ongunstige weerpatrone, wat aan El Niño toegeskryf word, voortduur.

Agweb.com berig dit is nou die maak-of-breektyd vir die soja-oes in dié twee lande.

Reuters het einde Desember berig Brasiliaanse sojaboere staal hulself vir verliese weens dié maand se droë toestande en hoë temperature.

Ondergemiddelde reën word vandeesmaand verwag in vyf Brasiliaanse state, wat gewoonlik twee derdes van die nasionale sojaproduksie lewer.

In sommige gebiede word verwag dat die opbrengs 30% tot 40% laer gaan wees.

Van die boere oes vroeër as gewoonlik om die uitwerking van die droogte op hul oeste te verminder.

Gro-intelligence.com berig dat Brasiliaanse suikerrietboere ook hard deur die droogte getref is.

Hoewel die internasionale suikervoorraad op rekordhoë-vlakke is, het suikerpryse op 6 Januarie gestyg weens die verswakkende vooruitsig vir 2018-’19 se Brasiliaanse suikeroes.

Na raming sal sowat 20 miljoen ton suiker van dié oes uitgevoer word, die minste sedert 2007.  

Die ‘Big Dry’

Die eerste minister van Australië, mnr. Scott Morrison, het in sy nuwejaarsboodskap beloof om meer staatshulp aan droogtegeteisterde boere in streke soos Murray-Darling en Nieu-Suid-Wallis uit te brei.

Dié streke het albei verlede jaar die warmste Januarie tot September aangeteken, terwyl reënvalmetings in verskeie Australiese streke in die onderste 10% van historiese reënvalvlakke was, berig AFP. In Wes-Australië het ’n onlangse hittegolf tot rekordtemperature van tot 49° C gelei. Sewe van Australië se tien warmste jare op rekord is sedert 2005 aangeteken.

In Australië, met ’n gemiddelde reënval van minder as 600 mm per jaar, staan die huidige droogte as die “Big Dry” bekend. Sommige boere trotseer reeds sewe droë jare agtereenvolgens en dorpe kwyn. In Queensland, Australië se tweede grootste deelstaat wat dubbeld so groot soos Texas is, het die regering reeds in Augustus ’n droogtehulpfonds van A$3,5 miljard ingestel om landelike gemeenskappe te help.

Volgens Rabobank sal die droogte, tesame met ryp in sommige gebiede, daartoe lei dat die huidige wintergraanoes die kleinste in tien jaar sal wees.


Die Australiese Buro vir Meteorologie het die week bekend gemaak dat 2018 volgens hul rekords die derde warmste jaar op rekord vir dié land is. Dagtemperature was ’n gemiddeld van 1,55 °C warmer as die langtermyngemiddeld, terwyl nagtemperature 0,73 °C hoër is.

Die land se weerburo verwag dat die volgende drie maande steeds droër en warmer as die gemiddeld sal wees, weens die uitwerking van die verwagte El Niño-stelsel en die Indiese Oseaan-dipool wat steeds die weerpatrone beïnvloed. 

Europa

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, sê Europa het die afgelope somer een van sy kwaaiste droogtes tot dusver beleef. “Min reën en rekordhoë temperature het groot skade aangerig aan groente, suikerbeet en ander gesaaides.”

De Jager, wat in dié tyd verskeie kere in Europa was en talle boere besoek het, sê dit was nie net saaiboere wat swaargekry het nie. “Ek was onder meer by melkboere wat ook baie bekommerd is. Boere daar het nog nooit ernstig oor besproeiing gedink nie, maar ná die droogte word dit vir hulle iets om te oorweeg.”

Hy sê wat Europese boere se situasie vererger, is die stagnasie en gebrek aan politieke leierskap wat landbousake betref. Daar is voortdurend veldtogte, soos om RoundupReady verbied te kry, en die debat word gevoer sonder om boere self daarby te betrek.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.