Kommer heers oor die impak van dié toestande op die gehalte van die vrugte-oes, en gevolglik ook die land se vermoë om sy verpligtinge teenoor klante, plaaslik en internasionaal, te kan nakom. 

“Suid-Afrika is ’n druppel aan die emmer,” sê mnr. Conrad Fick, bemarkingsbestuurder by Tru-Cape. 

Tydens ’n gespreksgeleentheid in Kaapstad het Fick gesê as die oes vanjaar nie is wat dit die afgelope vyf jaar was nie, gaan dit vir die plaaslike bedryf moeilik wees om sy verpligtinge teenoor sy klante na te kom. “As die produkte nie van goeie gehalte is en waarde bied nie, gaan daar nie klante wees aan wie ons kan verskaf nie.”

Pakhuise se kapasiteit is ook ’n bron van kommer. “Omdat die vrugte kleiner is, is daar meer vruggies in ’n houer, maar jy kan net soveel vruggies per minute met die masjien oordra. As daar meer vruggies is, val die kapasiteit weg en dan het jy minder kratte. Dan is daar die moontlikheid dat jy jou verpligtinge nie kan nakom nie,” sê Fick.

Mededinging met ander lande

Volgens Fick het die hoeveelheid vrugte wat Suid-Afrika uitvoer, toegeneem. Die uitvoervolume is sowat 56% van die totale oes.

Die Suid-Afrikaanse bedryf ding mee met Chili, China, Argentinië, Nieu-Seeland en Duitsland. Fick sê die tegnologie verbeter voortdurend om vrugte langer vars te hou en op te berg, wat die bemarkingstydperk laat krimp. Dit beteken dat voortdurend nuwe markte gevind moet word.

Tru-Cape gaan kyk na die gehalte van die vrugte en hoe lank hulle die gehalte behou met die oog daarop om vrugte na Kanada, Amerika, Rusland en die Verre-Ooste te verskeep. “Ons wil seker wees die produkte sal vir die totale reis hou,” sê Fick.

Ramp na ramp

“Watertekorte, sonbrand én hitte, en toe hael. Dit was die een uiterste op die ander,” sê mnr. André Cloete, ’n appel-en-peerboer van die plaas Klein Ezeljacht naby Greyton, wat ook deel van die Tru-Cape-groep is. Sowat 2½ maande gelede het 75 mm binne twee uur daar geval. “Van 30% tot 40% van my appels is weens hael beskadig. Dis die eerste keer dat dit met my gebeur.”

Cloete sê in ’n normale jaar kry hy 1 000-1 200 mm reën. Vanjaar het hy skaars die helfte van sy normale reënval gemeet. Hy sê die warm weer is glad nie goed vir die appels nie. “Die boorde ervaar stres wat die blare laat toemaak, maar ten spyte van alles bly ek kalm en gaan maar aan.”

Cloete is ook bekommerd oor die grootte van die appels. “Omdat die bome swaar kry weens te min water en hoë temperature vind selverdeling nie plaas soos dit moet nie. Dit is kommerwekkend.” 

Raad aan boere

Cloete sê hy sal nie ’n boer aanraai om sonder versekering te boer nie. Van sy 8 ha appels het die Royal-kultivar 35% hael- en sonbrandskade en die Golden-kultivar 55% skade opgedoen. 

Hy het wel waardevolle lesse oor waterverbruik geleer. “Ek het geleer hoe om water akkuraat te bestuur en deesdae gebruik ek nie eers die helfte van die water wat ek voorheen gebruik het nie.” 

Cloete wat met 18 ha pere en 20 ha appels boer, sê die droogte het beslis ’n invloed op sy boerdery. Boonop is sy die waterkwota met 60% verminder. Boere het dus 40% van hul waterkwota gekry. Hy sê hy doen reeds sy beplanning vir die volgende seisoen.

“Ek glo die reën gaan kom. As die reën kom, sal dinge oukei wees. Ek vertrou en hoop dat dinge beter sal wees,” sê Cloete.