Altesaam 16 245 besoekers het Bredasdorppark van 12 tot 14 September besoek, met 287 uitstallers wat aan die eerste Nampo Kaap deelgeneem het. Mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, sê hulle het gehoop dat dié landboutentoonstelling 10 000 besoekers sou lok.

“Uitstallers is ook baie tevrede, nie met die sake wat hulle op die terrein kon doen nie, maar ook vir die saketransaksies wat hulle sedertdien in die pyplyn het,” sê Wessels. Een van die voertuig-uitstallers het aan Graan SA bevestig dat hulle 14 voertuie tydens Nampo Kaap verkoop het.

Drade moes elke dag geknip word sodat meer parkeerplek op die terrein geskep kon word. Op die tweede dag moes ’n ekstra ingang geskep word om die lang rye besoekers wat kaartjies by die hekke wou koop, vinniger te help. “Die kosstalletjies het te min kos gehad. Dit was alles gelukkig probleme wat redelik maklik opgelos kon word.” 

Datums vir Nampo Kaap 2019

Volgens Wessels word hulle reeds oorval deur navrae van nuwe uitstallers wat tydens Nampo Kaap 2019 wil uitstal. “Ons gaan natuurlik al die uitstallers wat hierdie jaar die eerste tree saam met ons gegee het die kans bied om weer uit te stal. Aansoeke vir uitstallers vir volgende jaar open eers op 1 Maart 2019.” Belangstellendes kan Graan SA se webtuiste, www.grainsa.co.za, vir meer besonderhede dophou. 

Nampo Kaap het met die Swartlandskou, wat op Moorreesburg aangebied word, ooreengekom om volgende jaar datums uit te ruil. Gevolglik sal Nampo Kaap 2019 van 4 tot 6 September 2019 plaasvind, terwyl die Swartlandskou van 11 tot 14 September 2019 sal plaasvind. Een van die redes vir dié skuif is dat die Swartlandskou in 2019 die Nasionale Anguskampioenskap aanbied.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.