Meyer het dié kommentaar gelewer na aanleiding van ’n onlangse ontmoeting met die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV).

Meyer sê tekortkominge by dié hawe sal die Wes-Kaapse ekonomie skaad en werksverliese veroorsaak gedurende ’n tydperk wanneer alles in die stryd gewerp moet word om werksgeleenthede te skep.

“Die tekort aan toerusting en verouderde toerusting by die hawe dui op die bestuur by haweterminale se wanvermoë om Kaapstadhawe doeltreffend te bestuur. Dit ondermyn die deurslaggewende rol wat die hawe behoort te speel in die steun van uitvoer en ekonomiese groei.”

Die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het ’n hawetaakspan op die been gebring sodat belanghebbendes in die hawelogistiekewaardeketting saam oplossings kan vind vir die probleme by Kaapstadhawe. Meyer sê hoewel dié taakspan reeds vordering gemaak het, word die betrokkenheid van die nasionale regering benodig en moet pres. Cyril Ramaphosa die hawe dringend besoek.

“Ek beoog om Kaapstadhawe te besoek en my bekommernisse met die senior bestuur van Transnet-haweterminale te bespreek. Ek sal die SKV se griewe ook met die Wes-Kaapse komitee vir finansies, asook ekonomiese ontwikkeling en toerisme bespreek.

“ ’n Doeltreffend bestuurde hawe in Kaapstad sal die ekonomiese herstel van die Wes-Kaap bevorder en die noodsaaklike rol steun wat die landbousektor in ekonomiese groei en werkskepping speel.”

Die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 50% van die Suid-Afrika se landbou-uitvoer.Meyer sê as die voortslepende kwessies by Kaapstadhawe opgelos kan word, sal dit verskeie mense baat. “Volgens beskikbare navorsing sal 19 000 nuwe werksgeleenthede in die Wes-Kaap geskep word as uitvoer met 5% oor die volgende vyf jaar groei.”