Met mieliepryse wat sywaarts beweeg en beter uitvoergeleenthede kan die Suid-Afrikaanse varkbedryf ’n hupstoot in 2016 kry.

Me Thabi Nkosi, hoofekonoom van Agri SA, het tydens die Premier-varkprodusente (PPP) se jaarvergadering aan afgevaardigdes gesê die varkbedryf verbruik sowat 10% van alle voer wat in Suid-Afrika geproduseer word.

Hoër mieliepryse die afgelope paar jaar het die bedryf onder druk geplaas. Met kommoditeitspryse wat na verwagting meer sywaarts gaan beweeg in komende seisoene, behoort varkboere egter ’n effense blaaskans te kry met insetkoste.

Voerkostes beloop 70% tot 80% van ’n varkprodusent se produksiekoste. ’n Groot geleentheid vir varkboere, sê Nkosi, lê in nuwe uitvoermarkte op die kontinent.

“Ons sien ’n geweldige groei in varkproduksie in ontwikkelende lande, waar bevolkingsgroei ’n sterker vraag na varkvleis ondersteun. Ontleders meen dat die vraag na varkvleis reeds die versadigingspunt in ontwikkelde lande bereik het, wat talle geleenthede vir Suid-Afrikaanse varkboere open in Afrika, waar ontwikkelende lande se vraag na varkvleis steeds groei,” het sy gesê.

Nuwe handelsooreenkomste tussen die Suidelike Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap kan uitvoergeleenthede vir plaaslike varkprodusente skep.