“Dit maak dit eenvoudig nie die moeite werd om grootskaals in dié sektor te belê nie,” het dr. Tracy Davids van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) op die Subtrop-bemarkingsimposium in Witrivier, Mpumalanga, gesê.

Sy het gesê diereprodukte en tuinbou was die twee bedrywe waarvan die markaandeel in die landbousektor die afgelope vyf jaar die meeste gegroei het. In albei gevalle was die groei danksy uitvoer.

Die staat sal egter sy kant in albei sektore moet bring om volgehoue groei te verseker. Wat diereprodukte betref, gaan biosekerheid vir ’n beter dieregesondheidstelsel nodig wees. Om volgehoue groei in die vrugtebedrywe te verseker sal die Suid-Afrikaanse regering gunstige marktoegang vir sy produkte moet beding en die land se infrastruktuur in orde moet kry.

Sy het gesê terwyl tuinbougewasse se produksie en gehalte op kort termyn onder die droogte ly, gaan die sektor waarskynlik beter vaar op lang termyn, veral wanneer die nuutste tegnologie ingespan word om water doeltreffender te benut. Wat waterinfrastruktuur betref, gaan dit ook maak of breek wees vir Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar.

Die Afrika-vryehandelsooreenkoms wat in Junie 2020 in werking tree, gaan ’n gebied met 55 handelstreke en 1,2 miljard mense in ’n handelsarea sonder heffings of perke omskep. Davids het gesê dit skep baie ruimte vir groei, maar het gewaarsku dat die vasteland se swak infrastruktuur kan veroorsaak dat die volle potensiaal van die vryhandelsone nie oornag bereik word nie. Dit kan aanvanklik te duur wees om produkte oor die vasteland te verskeep.

Ekstra belasting

Mnr. Mitchell Brooke, bestuurder van die Sitruskwekersvereniging, het vertel hoe die ontoereikende vraghouergeriewe by Suid-Afrikaanse hawens skepe vertraag. Hy het voorspel dat sitruskwekers binnekort ekstra belastings opgelê gaan word vir vertragings.

Brooke het gesê hoewel hard gewerk word aan die oopstel van sylyne vir spoorvervoer van Suid-Afrika se hoofsitrusproduksie gebiede na hawens, glo hy dit gaan nog ’n tydjie duur voordat dit ’n opsie vir vrugte soos avokado’s kan wees.

Op lang termyn word beoog om ’n koueketting van sekere sylyne af tot by hawens te handhaaf. Dan sal spoorvervoer ’n werkbare alternatief vir padvervoer wees vir uitvoerders van subtropiese vrugte.