Grewar was ’n spreker tydens die onlangse aanlyn Meat Matters-konferensie wat die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging vir die beesbedryf aangebied het. Die vereniging het die maatskappy genader om te kyk of kompartementalisering van die rooivleisbedryf, en spesifiek in die voerkraalbedryf, suksesvol toegepas kan word in Suid-Afrika.

Grewar het gesê kompartementalisering word hoofsaaklik deur die riglyne van internasionale organisasies soos die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) gerig en Suid-Afrika moet daardie riglyne volg om dit te laat werk. “Dit is definitief lewensvatbaar, maar daar is kwessies wat ons moet aanpak.”

Die eerste kwessie wat aangepak moet word, is die naspeurbaarheid van diere. Grewar het gesê kompartemente is die skep van ’n subbevolking van diere wat ’n ander gesondheidstatus het as die diere rondom hulle. Om dit te doen, moet mens weet waar diere vandaan kom, dus naspeurbaarheid.

Die ander groot kwessie wat aangepak moet word, is monitering. “Jy kan nie verskillende vlakke van besmetting bepaal sonder dat jy vir die siekte in die kompartement soek en seker maak dit is nie teenwoordig nie.”

Samewerking noodsaaklik

Suksesvolle kompartementalisering gaan noue samewerking tussen die staat en private sektor verg en die proses kan nie werk sonder ’n sterk verhouding met die regering nie, het Grewar gesê. Gelukkig het die OIE selfs riglyne vir dáárdie verhouding geskryf. Vennootskappe tussen die staat en die private sektor het nou ’n wêreldwye fenomeen geword.

In Suid-Afrika word die beginsel van kompartementalisering reeds suksesvol in die varkvleis- en hoenderbedryf toegepas. Daar is dus reeds bewyse dat die staat en private sektor saam ’n sukses daarvan kan maak, maar Grewar het die rooivleisbedryf beskryf as meer dinamies as die hoender- en varkvleisbedryf met baie meer belanghebbendes. “Die tipe ontleding wat gedoen moet word ten opsigte van ’n sosiale komponent van hoe mense regulasies gehoorsaam en bedryfsgedrewe inisiatiewe ondersteun, is dinge waarna gekyk moet word, want dit is die dinge wat kompartemente gaan maak of breek.”

Sy raad aan die beesvleisbedryf is om eerder klein te begin. Hy het gesê ’n groot raamwerk waarbinne almal skielik moet leer funksioneer, gaan nie deug nie. “Begin by enkele groot belanghebbendes en kyk wat moet gedoen word om dit te laat werk en onderneem dan ’n gidsstudie.

“Kyk watter hulpbronne beskikbaar en nodig is. As dit suksesvol met daardie enkele groot belanghebbendes toegepas kan word, kan mens inspring en kleiner belanghebbendes betrek,” het Grewar gesê.

“Die sielkunde agter ’n groot projek soos hierdie verg sosiale wetenskaplikes op die span wat help om mense se reaksie op verandering te bestudeer en te help om dit tot die voordeel van almal toe te pas.”