'n Unieke platform wat talle vrae oor grondverkope in Suid-Afrika kan beantwoord, is nou vir lesers in Landbouweekblad en op Landbou.com beskikbaar.

Dié platform bevat plaasverkope wat die afgelope 12 maande by die Aktekantoor geregistreer is.

Die ontleding van data van die plaasverkope is vir 12 maande per distrik saamgevat en verskyn in nuttige tabelle. Die tabelle sal sover moontlik, ook weekliks en per provinsie in Landbouweekblad gepubliseer word.

Die platform bied die volgende inligting aan: Aantal transaksies per distrik per maand (oor die 12 maande), totale hektare verkoop, laagste prys per hektaar, hoogste prys per hektaar, gemiddelde prys per hektaar en die distrik se prysneigings.

Mnr. Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions, het die platform saamgestel en hy lewer elke week kommentaar oor neigings in die provinsies.

Ál die inligting is van meet af op Landbou.com beskikbaar, plus meer besonderhede oor die transaksies, soos plaasgroottes, hoeveel hektaar per maand in ‘n distrik verkoop is en die bedrae wat betaal is. Lesers kan ook sien wie die grondaankope gedoen het, soos transaksies deur die staat en transaksies van kleur. Besoek Landbou.com en klik op Plaasverkope.

Die syfers op die webwerf sal so gereeld moontlik bygewerk word.

Rig navrae aan Johann Bornman by: jchb@mweb.co.za