Die ontwikkeling, bekend as Projek CHANGE, is gemik op die kommersiële produksie, verpakking en bemarking van tafeldruiwe en sitrus plaaslik én in die buiteland. Die wins uit die boerdery sal  gebruik word vir die bemagtiging van die gemeenskap in die Loskopvallei wat daarby betrokke is. Benewens die werk wat geskep word, word ook beoog om hulle by te staan met onderwys-, opleiding- en gesondheidsdienste.

Mnr. Gert Schoonbee van die Schoonbee-landgoed sê daar is oor die laaste twee jaar intensief gewerk aan hierdie wins-met-’n-doel-konsep waarmee die maatskaplike behoeftes van die gemeenskap help vervul kan word. “Hoewel sitrus- en tafeldruifproduksie die kernbesigheid van Projek CHANGE is, is die kerndoelwit om verandering te bewerkstellig deur bemagtiging en opheffing.”

Schoonbee-landgoed was die afgelope 75 jaar ’n familieboerdery in die Loskopvallei. Dit is onlangs omskep in ’n korporatiewe besigheidsmodel gegrond op die beginsel van gemeenskaplike waardes.

Die boerdery se bydrae tot die projek is twee plase wat onlangs ontwikkel is en reeds ’n  inkomste inbring, terwyl Thebe se bydrae die aankoop van ’n verdere 400 ha met waterregte is wat ook ontwikkel sal word. Al die sitrusboorde en 68% van die wingerde is al aangeplant.Pakhuise en drie sentrums vir primêre gesondheidsorg en opleiding sal volgende jaar opgerig word. Die Land Bank help met die finansiering.

CHANGE sal toegang hê tot Schoonbee-landgoed se markte en na verwagting sal sowat 70% van die produksie na 60 lande uitgevoer word.

Mnr. Mokgethi Tshabalala, Thebe se hoofbestuurder vir landbou-verwerking, sê die gemeenskap se behoeftes aan gesondheidsorg en onderwys is in die sakemodel ingebou en sal nie van dividende afhang wat eers oor sewe jaar verwag word nie.

Albei partye sê hulle besef die model sal op kort termyn druk plaas op die verdienste van die aandeelhouers, maar dat dit op lang termyn volhoubaarheid vir alle belanghebbendes help verseker. Die vennootskap is doelbewus nie net gerig op die geldelike welvaart van die aandeelhouers nie, maar ook daarop dat die maatskappy op lang termyn gesond bly deur om te sien na die geldelike, maatskaplike en omgewingsaspekte.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.