Die Kougadam het teen 16 Julie op slegs 7% gestaan. Mnr. Charl Malan, wat hoofsaaklik met hidroponiese slaaigroente en kruie, asook sitrus boer, sal van Oktober af moeilike besluite moet neem oor watter groente hy aanstaande jaar wil aanplant. “Ek het reeds die kopers in kennis gestel watter groente ek kan verskaf tot daar weer water in die dam is.”

Hy sê hy kon gelukkig in die vorige planttyd sy groenteaanplantings met die 40% van die toegekende waterkwota onderhou, aangesien sy sitrusaanplantings betreklik jonk is en nog nie baie water nodig het nie. Verskeie boere in die vallei se boerderye is verdeel tussen sitrus en groente.

Die meeste boere het nadat die waterkwota die vorige seisoen ingekort is, hul groenteproduksie gestaak om eerder op sitrusproduksie te konsentreer.

GEEN KEUSE

Omdat Malan egter hoofsaaklik ’n groenteboer is, kon hy nie dieselfde keuse maak nie. “As ek vir ’n maand nie groente lewer nie, gaan ek dit nie maak nie, aangesien ek intensief daarmee boer.” Hy sê hy dink nog nie daaraan dat hy moontlik sonder besproeiingswater kan wees indien die dam opdroog nie.

“Ek hou maar duim vas en hoop dit reën, want die 20%-waterkwota is reeds te min. Dit is maar ’n onvoorspelbare situasie en tot die dam opdroog, is daar nie werklik antwoorde oor wat om te doen nie.”

Volgens me. Madalé Ferreira, wat met aarbeie en spinasie naby Hankey boer, het die waterkwota haar boerdery ernstig benadeel, aangesien sy nie op haar volle produksiepotensiaal kon plant nie. Sy moes ook van haar arbeiders verminder.

Sy sê die 20 mm reën wat oor die naweek van 14 en 15 Julie uitgesak het, het wondere verrig, al was dit net om die grond, sand en stof nat te maak sodat die aarbeie afgewas kan word. Sy hoef minder besproeiingswater te gebruik.

LESSE

Ferreira sê egter daar was baie goeie lesse te leer uit die droogte. “Ons kom uit ’n vallei waar daar maar nog altyd water was. Die mense het innoverend en kreatief geraak. Ons moes leer saamwerk en werkers moes leer saamstaan, want almal voel dit.”

Mnr. Petrus du Preez, voorsitter van die Gamtoos-boerevereniging, sê sitrusboere kon vanjaar steeds met slegs 40% van die gewone waterkwota ’n goeie gemiddelde oes kry. “Met die pluktyd wat nou einde se kant toe staan, begin ons al aan die volgende oes dink en daar is groot onsekerheid. Almal is in ’n uitbreidingsfase met sitrusaanplantings en dit is ’n langtermynproses.

Boere is onseker of hulle met die aanplantings kan voortgaan. Sommiges waag ’n kans en plant, en ander hou terug.” Hy sê een ongunstige nadraai is dat seisoenswerkers nou minder werk en inkomste het omdat daar nie groente in die somer gelewer word nie, wat tot maatskaplike komplikasies in die vallei kan lei.

Boere gaan egter hul bes doen om hul permanente werkers te behou. “Ons bly hoop en bly optimisties. ’n Mens kyk nou met ander oë na water, want dit is ’n bron wat kan opraak. Jy moet dit oppas en verantwoordelik gebruik.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.