Luidens ’n verklaring van die UV dien Farmovs en die universiteit se deelname aan die studie as bewys dat die instellings daartoe verbind is om by te dra tot die ontwikkeling van behandelings en behandelingstrategieë om die Covid-19-pandemie hok te slaan.

As die studieprotokol goedgekeur word, sal die UV die eerste universiteit wees wat aan ’n studie van dié aard deelneem.

Die UV waarsku mense om nie ag te slaan op ’n klankgreep wat onlangs op WhatsApp die ronde gedoen het nie. Die boodskap verwys na die rol wat die universiteit speel in die daarstelling van ivermektien se doeltreffendheid vir die behandeling van Covid-19.

“Die klankgreep is nie feitelik nie, spesifiek ten opsigte van die universiteit en sy beweerde mening oor die gebruik van en behoefte aan wetenskaplike ondersoek na ivermektien.

“Die UV is verbind tot streng wetenskaplike en bewysgebaseerde navorsing. Farmovs en die universiteit ondersteun die gepubliseerde menings en riglyne van die Suid-Afrikaans gesondheidsproduktereguleerder (Sahpra) en die wetenskaplike adviesrade wat die wetenskapsgemeenskap op die been gebring het, asook die Suid-Afrikaanse regering se standpunt oor die gebruik van ivermektien vir die behandeling van Covid-19.”