Daar word reg oor Suid-Afrika pakhuise opgerig pleks van fabrieke. Só het mnr. Katishi Masemola, sekretaris-generaal van Fawu, aan lede gesê tydens die protesoptog voor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se kantoor in Groenkloof.  “Die pakhuise word opgerig om voedsel en goedere wat die land van die buiteland af binnestroom, te versprei.

Sodoende word plaaslike ondernemings van hul bestaansreg ontneem en duisende Suid-Afrikaners verloor daardeur hul werk. Daar moet eerder fabrieke opgerig word om meer werksgeleenthede te skep en die hele waardeketting van plaaslike produkte te voorsien,” het hy gesê.

Onwelkome regulasies

Fawu en sy alliansievennote het die protesoptog gereël om hul teenkanting uit te spreek teen ’n aantal regulasies wat eersdaags ingestel word, insluitend suikerbelasting, ekonomiese vennootskappe met die Europese Unie (EU), wat tot die storting van hoenderporsies in Suid-Afrika gelei het, die onduidelike beleid oor visseryregte, beoogde veranderinge aan die Tabakwet rakende advertensies vir tabakprodukte, asook veranderinge aan die Drankwet. 

Verskeie maatskappye, soos British American Tobacco, het hul fabrieke vir die dag gesluit om hul werknemers toe te laat om die protesoptog by te woon.

Fawu meen dat die bestaande wette rakende doeane, aksyns en verwante sake deur die SAID afgedwing moet word en dat daar groter ag geslaan moet word op voorstelle uit die bedrywe. Fawu het ook ’n beroep op die SAID gedoen om sterker teen oortreders van hierdie wette, sowel as teen onwettige handelaars, op te tree. 

“Die SAID moet optree teen misdaadsindikate wat nie belasting betaal nie deur hul bedrywighede stop te sit. Dit sluit onwettige alkoholverkope, perlemoensmokkelary en onwettige sigarethandel in. Die invoerders van hoendervleis en verwante produkte moet ook fyn dopgehou word, aangesien hulle ook aandadig kan wees aan onwettige handel,” het Masemola gesê. 

Werksverlies
Mnr. Francois Baird, stigter van FairPlay, ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gerig is om roofsugtige handelspraktyke tussen lande stop te sit, het aan Landbouweeklblad gesê die plaaslike hoenderbedryf word uitgewis deur onwettige storting van hoenderporsies van veral Brasilië en die EU. 

“Storting veroorsaak dat duisende werknemers jaarliks hul werk verloor. Omdat hulle grootliks in landelike gebiede woon, is die kans so te sê nul dat hulle weer ’n werk gaan kry. Afleggings is nie die plaaslike bedryf se skuld nie.

"Inteendeel, Suid-Afrika spog met een van die mededingendste en winsgewendste hoenderbedrywe ter wêreld, maar ons kan nie regverdig meeding teen groot lande wat goedkoop hoendervleis hier kom stort nie. Boonop is dit nie net ’n ekonomiese kwessie nie, maar ook ’n gesondheidsrisiko, soos wat die onlangse listeriose-uitbrekings net weer beklemtoon het,” het Baird gesê. 

Hy meen die Regering moet ook nou die vraagstuk oor die vervaardiging van etanol uit suikerriet oplos. “Die wetgewing is daar en die beplanning is gedoen. Die Regering moet nou net op ’n meer kreatiewe manier met die bedryf begin omgaan.

"As elke motor in Suid-Afrika slegs 10% van Suid-Afrika se suikerriet as etanolbrandstof gebruik, gaan ons reeds ’n geweldige groei in die suikerbedryf sien, met gevolglike werkskepping in die waardeketting. Ons kan boonop minder afhanklik van buitelandse brandstof word. 

“Al wat moet gebeur is, is dat die verskillende staatdepartemente met mekaar moet saamwerk om ’n oplossing te vind. Ons doen dus ’n beroep op die Regering om die speelveld vir almal gelyk te maak. Ons glo in die handhawing van geregtigheid en dat dit moet geskied deur sy beleid só op te stel dat werksgeleenthede nie verlore gaan nie en daar trouens meer werksgeleenthede binne die waardeketting geskep word,” het Baird gesê.