’n “Koalisie” van plaaswerkerunies dreig met grondroof en ’n revolusie in hul “stryd” teen Suid-Afrika se “kapitalistiese staat en stelsel”. Volgens die koalisie het hul “ou bewegings” hulle verraai en deel van die kapitalistiese stelsel geword. Daarom meen die koalisie is ’n revolusie die enigste uitweg om “te kry wat die rykes het”.

Dit beoog kontak met mynwerkers om ’n revolusionêre beweging tot stand te bring. In ’n opruiende brief wat deur vyf unies onderteken is en deur die Farm Workers Solidarity Coalition uitgereik is, word plaaswerkers se “oorwinning en mag” gevier.

Daarin word gesê boere “neem wraak” daarvoor deur met massaafdankings en duur huur, water en elektrisiteit te dreig. “Ons sal dit nie aanvaar nie. As ons grond moet beset en boere uitsit, sal ons dit doen,” word in die brief gesê. Die unies sê boere teiken werkeraktiviste vir afdankings en het ’n beroep op alle afgedanktes gedoen om hulle te kontak sodat “ons onmiddellik die stryd saam kan aanpak”.

Intussen het die Vryemarkstigting bekend gemaak dat hy die grondwetlikheid van die Wet op Arbeidsverhoudinge in die Grondwethof uitdaag. Hofstukke is reeds verlede Dinsdag ingedien. Mnr. Herman Mashaba, voorsitter van die stigting, sê in ’n verklaring hy het vir vryheid geveg tydens apartheid toe mense die reg ontneem is om besluite oor hul eie lewens te neem.

“Nou, 33 jaar later, veg ek weer vir vryheid – dié keer vir miljoene werklose mense.” Mashaba sê dit is die uitsluitlike reg van werklose mense om te besluit watter werk vir hulle beter is as geen werk nie en teen watter vergoeding hulle bereid is om dit te doen. “Niemand het die reg om daardie besluitnemingsmag van desperate mense weg te neem nie.”