Hy is op 17 Julie aan covid-19-verwante oorsake in die Mediclinic Panorama-hospitaal in Kaapstad oorlede.

Volgens sy seun, mnr. Nico van der Merwe, “het my pa ’n ongelooflike lewenskennis en waardestelsel gehad waaruit ons vier kinders geleer het. Hy het al die vrugte van die gees uitgeleef. Hy was byvoorbeeld vriendelik, goedhartig, nederig en het selfbeheersing toegepas. Hy het met passie geleef. Almal wat onlangs van sy dood verneem het, was bedroef – selfs mense wat hy onlangs leer ken het toe hy van Namibië na Yzerfontein verhuis het. Sy persoonlike en sakeverhoudings was uitstekend omdat hy integriteit gehad het.”

Wyle Van der Merwe het in 1981 sy werk by die destydse spoorweë laat vaar om ’n stuk grond van ses hektaar in Noordoewer te huur en daarop te begin boer. Met sy dood het hy die boerdery tot 4 000 ha uitgebrei, waarvan 900 ha onder besproeiing is, en die besighede op die been gebring. Sonop Farms verbou tafeldruiwe, botterskorsies, tamaties en soetrissies. Naturesmart doen ook uitvoer en bemarking vir ander boere.

Volgens Van der Merwe jnr. het sy pa begin Julie in Namibië gaan jag waar hy in kontak was met iemand wat Covid-19-positief was. “Hy het hartprobleme en het dadelik na Suid-Afrika teruggekeer, waarna sy resultate ook positief was. Sy toestand het skielik verswak en hy is binne ’n week oorlede.

“Ek is by die bemarkingsmaatskappy betrokke en my broer Albert by die boerdery. My pa laat ook my ma, Marie, suster, Thelana Hanekom, en ander broer, Marais van der Merwe na.”