Die sewe mans wat in verband met die moorde op mnr. Piet en mev. Tilla van Zyl van Immerpan naby Mokopane in hegtenis geneem is, het in die Leboakgomo-landdroshof verskyn. Hulle borgaansoek sou Woensdag (13 September) aangehoor word.

Die verdagtes, waaronder een 'n voormalige werknemer van die Van Zyls, is kort na die aanval op die egpaar gearresteer. Kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo-polisiewoordvoerder, skryf die reeks vinnige arrestasies toe aan samewerking tussen die provinsie se taakspan vir landelike misdaad, wat bestaan uit polisie- en private speurders, spoorsnyers en die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

LEES OOK: Renosterboer, vrou vermoor in plaasaanval

Die vermeende bende, met ouderdomme wat wissel van 29 tot 42 jaar, is almal van Mpumalanga, met die uitsondering van ’n Zimbabwier wat voorheen vir die Van Zyls gewerk het. 'n Handwapen, magasyn en ammunisie is tydens die arrestasies by een van die verdagtes gevind. Die polisie ondersoek tans die oorsprong van die wapen.

Ngoepe sê die egpaars, wie se lyke die oggend van 20 Augustus gevind is, se hande was vasgebind en hulle het etlike skietwonde gehad. Twee jaggewere en twee handwapens is tydens die rooftog gesteel.

Die sewe verdagtes is:

Mhlabane Bheki (30) van Jerusalem naby Hazyview in Mpumalanga.

Mbuyane Mpho Panuel (33) van Masoyi in Mpumalanga.

Nkosi Dumisani (33) van Masoyi in Mpumalanga.

Shabane Ntando (29) van Masoyi in Mpumalanga.

Mlazi Sfiso (36) van Mshanda in Mpumalanga.

Bhokodisa Vision (42) van Zimbabwe. Hy het voorheen vir die Van Zyls gewerk.

Phiri Nhlanhla Willis (37) van Masoyi in Mpumalanga.