Die bedryf het verlede jaar ’n krisis beleef toe produsentepryse geval het nadat listeriose in ’n polonie-aanleg gevind is, maar kon dit in ’n rekordslagjaar omkeer en nuwe markaandeel in die vleismark wen.

Produsentepryse het vanaf sowat R28/kg tot so laag as R18/kg geval en vir kleiner boere selfs so laag as R10/kg, het mnr. Johann Kotzé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo), by ’n FNB-vooruitskouingsgeleentheid in Sandton gesê.

Die daling was nadat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, die publiek vroeg in Maart gevra het om, weens die listeriose-uitbreking, kouevleis te vermy.

Kotzé het gesê in die eerste week ná die aankondiging het sosiale media paniek gesaai. Die bedryf se verliese het sowat R1 miljoen per dag beloop.

In winkels het die prys van varkvleis egter dieselfde gebly, omdat die listeriosekrisis voorraadvlakke verlaag en die prys hoog gehou het. Kotzé het daarom met kleinhandelaars vergader en onderhandel vir promosieveldtogte om verbruikers bewus te maak van varkvleis se ekonomiese waarde.

Danksy laer rakpryse vir varkvleis, wat selfs laer was as hoenderpryse, asook Savpo se deurlopende bemarking, het varkvleis goed verkoop en is nuwe verbruikers gelok, wat gewys het hoeveel potensiaal daar vir groei is.

Wêreldwyd maak varkvleis sowat 40% van vleis uit wat geëet word, terwyl dit in Suid-Afrika slegs 4,5% is. 

Lesse geleer

Kotzé het gesê van die lesse wat die bedryf geleer het, is hoe belangrik dit is dat die media gesaghebbende bronne moet aanhaal, hoe belangrik dit is dat die Suid-Afrikaanse landbou kompartementalisering moet gebruik om te kan bly uitvoer selfs ná ’n siekte-uitbreking, en dat hoër voedselveiligheidstandaarde in Suid-Afrika kan geld omdat 7 miljoen mense in die land verswakte immuunstelsels het.

Die krisis het ook gewys dat naspeurbaarheid ononderhandelbaar is. “In Amerika het hulle elke dag voedsel wat van die rakke af gehaal moet word, maar die oorsprong is naspeurbaar.” Kotzé meen die koste van naspeurbaarheid behoort deur die hele waardeketting gedra te word, omdat dit in almal se belang is.

Hy het gesê die varkbedryf se swakste skakel rakende biosekerheid is kleiner boere en Savpo kan hom dus nie net op die kommersiële bedryf toespits nie.

Savpo het saam met die regering ’n versekeringsfonds vir kleinboere begin, wat as rampfonds dien en waarmee protokol beheer kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.