Met ’n verwagte toename van 23% in aanlynverkope van groente en vrugte élke jaar is die kans goed dat verbruikers vorentoe nie eens meer die gerief van hul huis gaan verlaat nie. Hulle gaan bloot met ’n slimfoon seker maak hulle kry hul vyf porsies vrugte per dag in.

Mnr. Rainer Münch is ’n vennoot by Oliver Wyman, wat verantwoordelik was vir ’n neigingsverslag getiteld “Ontwrigting in verspreiding”. Hy meen die internasionale mark vir groente en vrugte sal met sowat 6% per jaar groei en dus teen 2030 meer as verdubbel (om op bykans €5 triljoen te staan te kom).

Dié groei word grootliks voortgedryf deur die stygende wêreldbevolking en ’n groter wordende middelklas, veral in Asië. Mense is ook meer gesondheidsbewus, wat hulle vars, pleks van verwerkte produkte laat koop. Dié meganeigings sal druk plaas op die verskaffingsketting om vinniger, buigsamer, presieser en deursigtiger te wees, het Rainer op die Fruitnet World of Fresh Ideas-konferensie gesê.

Die konferensie het op die vooraand van Fruit Logistica in Berlyn plaasgevind. Dit sal lei tot ’n evolusie van (verspreidings-)kanale. Hy voorspel aanlynverkope van groente en vrugte kan met 23% per jaar groei en teen 2030 sowat 7% van verkope (teenoor 1% tans) uitmaak. “Dit klink nie na baie nie, maar die invloed daarvan gaan baie wyer as net 7% strek.”

Volgens Rainer is daar veral drie gebiede waar ontwrigting in die groente- en vrugtebedryf kan plaasvind: logistiek en verspreiding, kleinhandel en voedseldienste. “Daar is ’n baanbreker genaamd Amazon.com wat die manier waarop sake gedoen word, verander. Ons noem dit kleinhandel-op-spoed, want hulle is vernuwend en soepel.

Die maatskappy stel heeltyd nuwe produkte bekend en brei sy reeks uit om dermiljoene produkte in te sluit. Hy is egter ook klantgerig en heeltemal toegespits op klante se behoeftes en hul terugvoering.” Rainer sê die opkoms van aanlynverkope hou gevolge vir ander spelers – soos produsente – in die verspreidingsketting in.

“In dié nuwe omgewing moet jy die huidige prosesse verbeter en jou oë oophou vir strategiese vennootskappe, want dit gaan ál belangriker word. Amazon probeer ál meer die middelman omseil en eerder regstreekse vennootskappe sluit.” Rainer het verwys na Amazon Fresh (’n aanlyn-winkel in Amerika, Londen, Tokio en Duitsland wat in vars produkte spesialiseer).

As dít ’n ernstige speler in die mark raak, kan boere hulle gereed maak vir meer regstreekse verkrygingsmetodes. “Ons sal ’n seleksieproses sien vir voorkeurverskaffers, gegrond op bestendigheid, buigsaamheid en spoed. Dit sal meer kanse skep vir boere om hul eie handelsmerke vir groente en vrugte te skep, want in ’n mark soos dié van Amazon is plek daarvoor.”

Verskaffers sal moet kan reageer op verbruikers wat gewoond raak aan ’n aanlynwerklikheid met ’n reuseverskeidenheid wat ook heeltyd beskikbaar is. “Of jy nou op ’n trein of met vakansie is, jy kan net klik en bestel met jou selfoon. Klante het vooraf gepakte inkopiemandjies en wil weer en weer dieselfde produk koop. Hulle verwag regtig dit moet 24/7 beskikbaar wees.

Hulle verwag ook ál meer dit moet op dieselfde dag by hul huise afgelewer word.” Belanghebbendes in die varsproduktebedryf sal meer dinamies moet raak en hul aanbodketting beter organiseer. Boonop sal bestendige gehalte ál belangriker raak omdat verbruikers keer op keer dieselfde gehalte vrugte sal verwag (en hulle nie meer self op die rak kan uitsoek nie).

Dit kan ook verpakking beïnvloed, want boere sal hul produkte moet verpak soos dit die aanlyn-wêreld pas (lekbestand, masjien-leesbaar, higiënies), maar dit moet ook volhoubaar wees en raklewe verleng.