Sy het op Farmer’s Weekly se AgriBesigheid Afrika-konferensie in Kempton Park gesê Suid-Afrikaanse boere is in ’n beter posisie om die mark te beheer as boere in Europa en Noord-Amerika. “Hulle is nie net afhanklik van groothandelaars nie. Daar is minstens vyf bemarkingskanale wat hulle kan gebruik. Dit sluit in uitvoer, plaaslike en streeksgroothandelelaars, varsproduktemarkte, oorgrenshandel binne die streek en informele markte.”

Stroebel was deel van ’n paneel wat besin het oor wie die waarde in die waardeketting besit. Sy het gesê boere en sommige ander belanghebbendes in die landbouwaardeketting het nie genoeg kennis van die groothandelkant nie en raak nie betrokke by die hele waardeketting nie. “Supermarkte is maar vir 40% van die verkope van vars produkte in die land verantwoordelik.”

Sy sê ongeveer 18 miljoen mense in Suid-Afrika ontvang maatskaplike toelaes en hulle bestee jaarliks R22 miljard by een groothandelaar wat die moeite doen om hierdie mark te bedien. Volgens Stroebel is min boere daarvan bewus dat byvoorbeeld 40% van ZZ2 se tamaties en 60% van die Dutoit-boerdery se uie op die informele mark verkoop word.

In Suid-Afrika is daar minder probleme met afvalvoedsel as in die EU en Amerika. Hoewel gehalte nie ingeboet moet word nie, is verbruikers baie minder behep met die handelsmerk en die vorm van die produk. “Al is die wortel ’n bietjie skeef, is daar steeds ’n mark vir hom.”

Verskaffers wat ’n goeie begrip van handelaars se sakeplanne het, kan ’n sterk mededingende voordeel geniet.

Prof. Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê daar is groot interafhanklikheid tussen die belanghebbendes binne die waardeketting. As een byvoorbeeld ’n voedselveiligheidsprobleem kry, ly almal daaronder.