Die landbouprodukte-agenteraad (Apac) kon in dié drie afsonderlike tugsake ook bykans R10 miljoen aan boere uitbetaal wat deur varsprodukte-agente aan hulle geskuld is. Dit is geld wat na bewering verduister is uit die markagente-trustrekeninge, waarin die inkomste van produkte-verkope inbetaal word en waaruit produsente uitbetaal moet word.

Apac het reeds in November 2018 dissiplinêr teen twee van die agente opgetree en vroeg in 2019 teen die derde. Apac het die handelslisensies van twee van die skuldige partye onttrek en ’n agent by ’n derde agentskap beboet.

Waar boere finansiële skade gely het, het Apac die boere uit sy getrouheidsfonds betaal.

Tugstappe

Twee agentskappe, Wenpro KZN, wat in Durban handel dryf, en Squires & Sons van Kimberley, se lisensies is onttrek nadat dit aan die lig gekom het dat hulle nie produsente kon betaal vir verkope wat reeds ouer as 30 dae was nie.

’n Ondersoek na die agentskappe het getoon dat die inkomste uit verkope na bewering onregmatig aangewend is en produsente nie hul geld ontvang het nie.

Stappe om die voormalige direkteure van hierdie agentskappe strafregtelik aan te kla, word tans gedoen. Terselfdertyd is daar ’n likwidasieproses aan die gang om die fondse te herwin wat Apac reeds aan boere uitbetaal het.

’n Agent van die Matlotsana-markagentskap in Klerksdorp, mnr. Marius Dreyer, is in dieselfde tyd met R100 000 beboet omdat hy nie volgens die voorskrifte van die Apac-wet, Wet 12 van 1992, opgetree het nie. Hiervan is R90 000 onbepaald opgeskort op voorwaarde dat hy hom nie weer aan oortredings van die Apac-wet skuldig maak nie.

Vertroue

Mnr. Francois Knowles, registrateur van Apac, sê vertroue in die agentebedryf is onontbeerlik.

“Vir Apac is dit ononderhandelbaar dat agente met absolute integriteit sal optree, en ons sal seker maak dat dit wel die geval is. Ons het egter die samewerking van produsente en mede-agente nodig om die oneerlike elemente in die bedryf aan die pen te laat ry. Dit is juis deur besorgde produsente dat ons te hore gekom het van hierdie oortreders.”

Hierdie is die eerste drie sake wat afgehandel is sedert Knowles as registrateur van Apac aangestel is.

“Produsente moet seker maak hulle doen sake met geregistreerde en gelisensieerde agente, sodat hulle die beskerming van Apac het. Dit geld ook agente wat deur produsente of heksejagters beskuldig word – Apac sal vir seker ’n agent se onskuld bewys indien dit die geval is.”

Vir nog inligting besoek www.apacweb.org.za of skakel 011 894 3680. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.