Altesaam 65 sprekers sal 65 oplossings vir die land se grondkwessie op die beraad bied. Oor die volgende paar weke sal ons meer inligting gee oor van die sprekers.

Boere dra grond oor aan werkers

Dr. Colin Forbes, ’n saaiboer op die plaas Fornes Athole by Amsterdam in Mpumalanga, bied gratis mentorskap aan begunstigdes van grondhervorming. Hy staan ook borg vir produksielenings by finansiële instellings en leen die nodige werktuie aan die begunstigdes in noodsituasies. Hy het ook 10% van sy plaas aan sy werkers gegee.

Op sy beurt het mnr. Eddie Prinsloo, ’n voorslag-Merinoboer van Heuningkrans by Smithfield, ’n vernuwende plaaswerkerskema begin waar hy in ’n opspraakwekkende transaksie van sy grond aan sy werkers oorgedra het. Die Prinsloo-familie boer al langer as ’n eeu. Eddie het in 1974 saam met sy pa begin boer en in 1986 die leisels heeltemal oorgeneem.

Mnr. Beyers Truter, eienaar van die Beyerskloof-wynplaas buite Stellenbosch en voorsitter van die Pinotage-assosiasie, sal praat oor een van die grootste landboubemagtigingsprojekte in die Kaap se wynbedryf. Beyers en mnr. Jan Hendriks, stigter van die Stellenbosch-plaaswerkersvereniging, het saam die Bouwland Estate tot stand gebring. Altesaam 39 gesinne besit deur die Bouwland-deelnemingstrust 74% van die aandele in die landgoed.

Moet jou nie laat afskrik

Mnr. Dirk Louw, ’n voormalige plaaswerker wat hom nie laat afskrik het van sy droom om te boer nie, gaan op die beraad oor sy ondervinding praat. Hy boer kommersieel buite Groblershoop. “Die suksesresep? Dirk se wil om suksesvol te wees, die insette van ’n kommersiële produsent, soos mnr. André Smith, en die volharding van mnr. Tumi Thukubi, ’n amptenaar by die provinsiale departement van landbou wat regtig sy werk gedoen het. Soos hulle aanhou doen wat hulle moet doen, word vertroue gebou en kan die nodige moeilike besluite geneem word, terwyl nóg harder gewerk word,” skryf Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, oor Dirk se besigheid.

Die landbousektor moet hom ernstig toespits op internskappe vir voornemende boere, meen mnr. Eric Ntlaba, ’n varkboer van Lindley. In minder as ’n dekade het Eric ontwikkel van ’n deeltydse agterplaasboer wat varke met oorskiethotelkos gevoer het, tot een van die grootste kommersiële varkboere in die land. Hy het vinnig opgang gemaak op sy eie grond. “Die grootste probleme is die verhouding tussen belanghebbendes in die landbou en die Regering, ’n gebrek aan subsidies en die feit dat boere prysnemers is,” sê hy. Die onlangse uitbreking van listeriose het Eric groot skade berokken.

Hier is nog van die sprekers wat jy by die beraad kan sien. 

Kliek hier om jou plek by die beraad te bespreek. 

NAVRAE

Stuur e-pos aan jacolette.kloppers@landbou.com

MEDIA-AKKREDITASIE

Rig versoeke aan jacolette.kloppers@landbou.com

BORGE

MacRobert Attorneys

Senwes

Standard Bank

Obaro