“Die invoer van hoendervleis het reeds duisende Suid-Afrikaanse werkgeleenthede vernietig en bedreig duisende meer. Die meeste van dié werkers behoort aan die Food and Allied Workers Union (Fawu), wat by Saftu geaffillieer is,” sê mnr. Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Saftu, in ’n verklaring. “Ons sal nie stilbly terwyl ons lede se werk bedreig en die bestaan van duisende Suid-Afrikaners verwoes word nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede op 13 Februarie belowe dat nuwe, hoër tariewe op ingevoerde stukke aan die been en ontbeende stukke “binne twee weke” afgekondig sou word.

Daar het egter sedertdien dadels hiervan in die Staatskoerant gekom, wat Vrydae gepubliseer word.

Vavi sê Fawu mobiliseer sedert 2016 sy lede oor die uitwerking van “gestorte hoendervleis” uit die Europese Unie (EU) en Brasilië op Suid-Afrikaanse werkgeleenthede, maar dat die regering slegs met “mooi woorde en geen dade nie” hierop gereageer het.

“Die regering hou nie eens sy woord oor die pluimveemeesterplan nie, wat veronderstel is om die oplossing vir die hoenderbedryfskrisis te wees.”

Die regering, arbeid, die bedryf en hoenderinvoerders het die plan, wat beskerming teen skadelike invoer insluit, op 6 November verlede jaar onderteken.

Vavi sê Saftu sal ook aansoeke om bykomende tariewe op hoendervleis uit die EU steun. Tot onlangs kon die EU weens voëlgriep nie hoendervleis na Suid-Afrika uitvoer nie.

Spoggerige eetgewoontes

Saftu wil verder die aandag daarop vestig dat die lewensbestaan van Suid-Afrikaanse werkers en hul families bedreig word weens die “lekkerbekkige” eetgewoontes van ryk verbruikers in die Noordelike Halfrond.

“Die oorsaak van die krisis in ons hoenderbedryf is dat verbruikers in Noord-Amerika en Europa hoenderborsvleis verkies. Produsente daar en in Brasilië, wat die wêreld se grootste hoenderuitvoer is, produseer groot hoeveelhede hoenders om in dié vraag na borsvleis te voorsien.

“Dit laat hulle met net so baie ongewenste bruin hoendervleis, die dye en boudjies wat so gewild is in Suid-Afrika en ander markte. Hulle verkoop dit dus, in bevrore grootmaatpakke, teen enige prys wat hulle kan kry aan plaaslike vleisinvoerders.”

Vavi sê Suid-Afrikaanse produsente kan nie met hoendervleis meeding wat teen minder as produksiekoste verkoop word nie, en minder as waarvoor dit verkoop word in die mark van waar dit kom.

Volgens hom raam kenners dat invoer se 30%-aandeel in die mark tot 40% kan groei as niks daaraan gedoen word nie.