In die jongste regulasies wat in die Staatskoerant afgekondig is, word duidelik uitgewys dat landbou- en wildveilings onderhewig aan die streng nakoming van gesondheidsprotokolle toegelaat word. Me. Thoko Didiza, minister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, moet nog aandui wat die protokolle is.

In April verlede jaar, toe vlak 4-regulasies ook gegeld het, is veilings met streng gesondheidsmaatreëls toegelaat en nie meer as 50 mense kon dit bywoon nie. Die verwagting is dat dieselfde protokolle sal geld. Agri SA verwelkom die opheffing van die verbod op veilings van lewende hawe en wild.

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê dit bring broodnodige verligting vir boere wat op veilings staatmaak om lewende hawe en wild te verhandel.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), wat nes Agri SA, hard gewerk het en pleidooie tot Didiza gerig het om die veilings hervat te kry, het ook die heropening verwelkom.

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, sê hulle is dankbaar en sal baie hard werk om die nuwe biosekerheidsmaatreëls by veilings toe te pas. “Lewendehaweveilings bly die lewensaar van die veeboer en die ontwikkelende veeboer, ook ten opsigte van die prysbepalingsmeganisme.”

Teleurstelling oor drankverbod

Van der Rheede sê Agri SA is baie bekommerd oor die impak van die drankverbod op die bedryf. “Ons is diep teleurgesteld oor die verbod op alkoholverkope (wat voortduur). Wynplase en die breër alkoholbedryf is reeds op hul knieë en die verdere verbod gaan die bedryf sink.”

Mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, sê hoewel die regering aanvoer dat die doel van die drankverbod is om te verseker dat hospitale die nodige kapasiteit het om covid-19-pasiënte te behandel, verskil die pandemie se invloed van provinsie tot provinsie.

“Ten spyte hiervan het die regering nog nooit ’n onderskeid getref tussen provinsies as dit kom by die toepassing of opheffing van die drankverbod nie. Pleks daarvan is ’n landwye verbod ingestel en dan weer opgehef, sonder inagneming van die omstandighede in die onderskeie provinsies.

“Die regering moet besluite neem en toepas wat die balans tussen lewens en lewensbestaan handhaaf. Besluite moet op provinsiale vlak geneem word, gegrond op wetenskaplike bewyse en volgens die besmettingsyfer en hospitaalopnames in hierdie provinsies.

“Die wyn- en toerismebedryf kan nie langer ly weens die versuim van die regering om gesondheidsgeriewe voldoende voor te berei op die gevaar van bykomende golwe en om ’n toereikende en doeltreffende inentingsprogram daar te stel nie. Daarom gaan Vinpro voort met sy stryd om die plaaslike mark te heropen.”