Hy is op 7 Januarie oorlede ná ’n lang stryd teen kanker.

Dr. Jasper Coetzee, nog een van Suid-Afrika se bekende skaapkundiges, is einde 2018 ook ná ’n stryd teen kanker oorlede.

Van Pletzen was in die veekundebedryf bekend as navorser, weidingkundige en voorligter, en hy was die skrywer en mede-skrywer van etlike semi-wetenskaplike en populêre artikels. Hy het baie eerbewyse ontvang, onder meer die bronsmedalje van die SA Vereniging vir Veekunde vir sy besondere bydrae tot veekundige voorligting, adviesdiens en bedryfsbevordering.

Hy het op die plaas Kranskop, Jamestown, grootgeword. Ná matriek aan Boys High op Cradock en sy diensplig in die Vloot het Van Pletzen in 1973 landbou aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer.

? Koshuismaat van Huis Olienhout en studentevriend, mnr. Chris Geldenhuys van Mosselbaai, vertel dat die bekende prof. Koos Nel van die departement kleinveekunde hul voogdosent was. “Ons twee moes die professor elke tweede Vrydag op kantoor gaan spreek. Hy was bekommerd of ons op universiteit aanpas! Ná die vergadering moes ons saam met hom kafeteria toe stap, waar hy vir ons elkeen ? koppie tee bestel het. Het ons twee eerstejaars dan nie skaam gekry nie!” vertel Geldenhuys.

Staatmaak

“Later het ons mekaar baie op OTK se boeredae en op die plaas gesien. Nadat ek met wild in die Noord-Kaap gaan boer het, en toe Hendrik by Voermol in Bloemfontein was, kon ons steeds op sy kennis staatmaak.” 

Van Pletzen en sy studentenooi, Petro Fourie, is in 1979 getroud. Hy het sowat ? jaar lank by die Landboukollege Glen lesings aangebied voordat hy ? pos by die destydse OTK op Bethal aanvaar het.Een van die mense wat in die vroeë 1980’s met Van Pletzen by OTK kennis gemaak het, was mnr. Danie van Niekerk. Van Niekerk het by die Departement van Landbou (voorligting) op Belfast gewerk, en later op Ermelo by die Nooitgedacht Landbou-ontwikkelingsentrum. Hy is nou tegniese bestuurder van Virbac RSA.

“Wildebeesfontein was OTK se proefplaas by Bethal waar akkerbou-, vee- en weidingsnavorsing gedoen is. Hendrik was verantwoordelik vir die veenavorsing. Alles was gemik op boerderystelsels en die suksesvolle integrering van die verskillende Hoëveldse boerderyvertakkings. Baie van die oorspronklike navorsing wat op Nooitgedacht gedoen is, is op Wildebeesfontein op ‘plaasskaal’ toegepas tot op produksievlak, en die ekonomie daarvan is geëvalueer en verfyn. Hierdie inligting is jaarliks op groot boeredae op Wildebeesfontein bekend gestel en bespreek.

“Hendrik was gemoeid met die Merinokudde waar volledige prestasietoetsing gedoen en nuwe tegnolgie, soos kunsmatige inseminasie, toegepas is. Hy het ook gewerk met die evaluering van die benutting van oesreste en wei-(staande) mielies en ander aangeplante weidings deur die veefaktor.”

Voermol    

In 1998 het Van Pletzen by Voermol begin werk, en het hy en sy gesin na Bloemfontein verhuis.

Vir mnr. Philip Strydom, besturende direkteur van Voermol Voere, was Van Pletzen ’n gerespekteerde kollega en vriend, wie se bydrae tot Voermol én die Suid-Afrikaanse veebedryf in die toekoms nog lank onthou sal word.

“Ek het Hendrik in 1998 ontmoet toe hy as tegniese bestuurder by ons aangesluit het, met ’n uitsonderlike akademiese en navorsingsagtergrond in vee- en weidingbestuur. Wat ek veral onthou van sy dienstydperk van 20 jaar, was sy toewyding en passie vir die ontwikkeling van die veebedryf, en sy bereidwilligheid om sy kundige kennis op ’n duidelike manier aan boere oor te dra. Gevolglik het hy ’n gesogte spreker en tegniese konsultant geword.

“Miskien was sy grootste bydrae in sy loopbaan by Voermol die vestiging van die Nasionale Beesboer- en Skaapboer van die Jaar-kompetisie. Deur hierdie nalatenskap word nie net Suid-Afrika se suksesvolle veeboere erken nie, maar produksiedata van veeboere op grondvlak vir analise ingesamel en versprei, ten bate van mede-boere en die veebedryf,” sê Strydom.

Rubriek    

Dr. Faffa Malan, bekende veearts, se eerste kontak met Van Pletzen was op ’n boeredag op Steynsrus. “Ek was gefassineerd hoe berekend hy gepraat het, ’n meester op sy vakgebied, in suiwer Afrikaans, en sy gehoor het vasgenael gesit. Elke vraag wat gevra is, is op ’n besonderse, eenvoudige manier beantwoord sodat almal dit kon verstaan.

“Van Pletzen, dr. Jasper Coetzee en mnr. Ulrich Müller het by Landbou.com betrokke geraak en honderde vrae van boere oor voeding en weiding in die rubriek Vra vir Faffa beantwoord. Sy nalatenskap is groot en ek sal hom baie mis.”

Familielied    

Dr. Japie van der Westhuizen, algemene bestuurder van die SA Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging, sê die aktiewe veekundiges in Suid-Afrika vorm ’n klein,  intieme familie. “Dit is sleg om 'n familielid te verloor.”  

Van der Westhuizen sê iemand wat só entoesiasties, toegewyd, leergierig en gewild soos Van Pletzen was, se bydrae tot die wetenskaplike kennis en toepassing daarvan het die Suid-Afrikaanse veeboer in ’n mededingender posisie geplaas. “Dis moeilik om te sê waar en wanneer ek die eerste keer bewus geword het van Hendrik se bydrae. Moontlik het ek begin lees oor sy werk by die OTK in die tagtigerjare.

“Dit was baanbrekerswerk, waar praktykgedrewe navorsing op plaasvlak toegepas kon word. In die vroeë 1990’s kon ek aansluiting by hom vind toe die eerste BLUP-teelwaardes in Suid-Afrika toepassing gevind het. Hendrik het die waarde besef om genetiese meriete te kombineer met bestuurspraktyke wat volhoubare produksie-doeltreffendheid sal verseker. Hierdie waardes het hy oorgedra na die private sektor en hy het nooit geskroom om inligting te deel nie.

“Verder het sy ywer en entoesiasme na veeboere oorgespoel en ’n werklikheid geword as deel van die Nasionale Beesboer- en Skaapboer-toekennings. Ook hier het hy die grense oorgesteek en gesorg dat elke veeboer homself kan meet aan bereikbare standaarde wat met die beste in die wêreld vergelykbaar is. Hy laat ’n leemte in die veebedryf.”

Diep spore

Prof. Gareth Bath, emeritus-professor van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, sê in sy huldeblyk Van Pletzen het oor etlike jare diep spore in die veebedryf en in besonder vir herkouervoeding getrap. Vir boere met gemengde saai- en veeboerdery het hy groot bydraes gelewer ten opsigte van die ekonomiese benutting van oesreste in voervloeiprogramme. Sy heengaan is vir die veebedryf ’n groot verlies.”

Afskeidswoorde van Geldenhuys, sy studentevriend: “Ek eer ’n maat en ’n vriend – sy geloof is iets wat uit sy menswees gestraal het. Sy ideaal om ná aftrede saam met sy familie in Jamestown met Merino's te gaan boer, was hom ongelukkig nie beskore nie.”

Van Pletzen se siekte het veroorsaak dat hy nooit die aftrede waarna hy en Petro so uitgesien het, in goeie gesondheid kon geniet nie. Petro het aan Landbouweekblad gesê: “Soos die jintelman wat Hendrik was, het hy ons nie in die groot dae, Kersfees of Nuwejaar, verlaat nie, maar tot ná dit gewag.” 

Van Pletzen word oorleef deur Petro, drie kinders, Rikus, Sanet en Lutje, en vier kleinkinders.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.