Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê tot dan gaan minimum temperature meestal onder vriespunt bly oor veral die sentrale en suidelike binneland, en die Hoëveld.

Van den Berg sê hoewel daar op die stadium nie tot einde Julie reën oor dele van die binneland verwag word nie, bly dit steeds ’n moontlikheid – veral aangesien reën teen middel Junie oor die noordelike binneland voorgekom het. Reën en die moontlikheid van sneeu is tot dan goed oor die winterreënstreek.

Wol- en bokboere moet altyd in gedagte hou dat koue, nat en winderige toestande noodlottig kan wees vir kleinvee, veral as die skape en bokke geskeer is. Verder moet moontlike koue toestande ook in ag geneem word wanneer diere geskeer word omdat dit ten opsigte van wolgehalte beter is om ’n verswakking van wolvesel (wat onder meer deur koue toestande veroorsaak kan word) op die punt van die vesel te hê as in die middel. “Tans lyk dit asof Augustus en veral die tweede deel van Augustus die laagste risiko het vir koue en nat toestande, maar daar moet ook nie te lank gewag word met die skeerproses nie aangesien die waarskynlikheid vir reën begin toeneem in September in veral die somerreënstreek.” 

Van den Berg stel die volgende strategie voor:

•          Besluit op ’n skeerdatum, maar verkieslik nie voor einde Julie nie.

•          Hou weervoorspellings op langer termyn dop vir drastiese veranderings.

•          Neem ongeveer twee weke voor die beoogde skeertyd ’n redelik finale besluit.

•          Neem ’n finale besluit ongeveer drie tot vier dae voor skeertyd (as daar ’n groot gevaar vir koue toestande kan wees).

•          Met vanjaar wat ’n hoërisikojaar is met baie koue toestande en die moontlikheid van reën en sneeu tot in die eerste deel van Augustus moet nou al beplan word waar die vee kan loop vir die beste beskutting vir die tydperk nadat hulle geskeer is.

Van die laagste temperature

Van den Berg sê ’n vergelyking van minimum temperature oor die sentrale tot suidelike binneland wys temperature in Junie was vanjaar die laagste in twintig jaar. “Gewoonlik kom hierdie uiters lae temperature later in die winter, veral gedurende Julie, voor.”

Douglas in die Noord-Kaap word as voorbeeld gebruik. Dié dorp het op 13 Junie 2020 ’n minimum temperatuur van -9,85°C aangeteken. Die vorige laagste temperatuur vir Junie wat daar gemeet is sedert 2000 was -6,6°C, op 16 Junie 2013. Die gemiddelde minimum temperatuur vir Junie vir Douglas oor die afgelope 20 jaar is 1,4°C. In 2019 was die gemiddelde temperatuur vir dié dorp in Junie 2,04°C.

“Dit is ’n bewys dat die winter, en veral vanaf die laaste week van Mei vanjaar, bogemiddeld koud is as na die minimum temperature gekyk word.”

Reën oor somerreënstreek

Verder is dit opmerklik dat meer reën teen middel Junie oor die somerreëngebied voorgekom het as oor die winterreëngebied. “ ’n Redelike sterk laagdrukstelsel het veroorsaak dat vogtige lug vanaf die Indiese Oseaan noordweswaarts oor die noordoostelike dele van die land na die binneland beweeg het. Sowat 40 mm het in die omgewing van Klerksdorp geval, 24 mm by Ottosdal, 12 mm by Coligny en 11 mm by Potchefstroom.”

Redelike swaar neerslae het ook oor die noordelike dele van KwaZulu-Natal voorgekom (meer as 40 mm) met ligter neerslae in die Noordoos-Vrystaat (14 mm by Vrede, 9 mm by Warden en 8 mm by Koppies), asook in Mpumalanga met 21 mm by Graskop en 6 mm by Bethal.

“Die reën oor die noordelike binneland kan ’n aanduiding wees dat die somerreënseisoen vroeër gaan ontwikkel as wat aanvanklik verwag is. Dié neiging moet in die komende maande fyn dopgehou word,” sê Van den Berg.