Sy sê veediefstal, tesame met plaasaanvalle en dan boonop die droogte en die bedreiging van onteiening sonder vergoeding, dryf boere tans tot by breekpunt.

Volgens Steyn is daar van Julie tot September verlede jaar 7 339 gevalle van veediefstal landwyd by polisiekantore aangemeld. Meer as 26 300 skape en 14 000 beeste is gebuit.

Slegs in die Hekpoort- en Magaliesberg-gebied in Gauteng word R1 miljoen se verliese maandeliks weens veediefstal gely. In Tshwane is 45 gevalle van veediefstal gedurende die eerste 45 dae van die jaar aangemeld, vergeleke met 51 gevalle verlede jaar. Vergeleke met die 38 gevalle wat verlede jaar in die Wes-Rand aangemeld is, is daar reeds vanjaar 28 gevalle aangemeld.

In die Oos-Kaap is honderde diere by 36 boere slegs gedurende Desember gebuit. Van Oktober verlede jaar tot Januarie vanjaar is vee by 80 boere in die Oos-Kaap gesteel. Soortgelyke getalle word in die Vrystaat aangemeld waar veral dorpe naby aan die Lesothogrens onder veediewe deurloop.

“Ongelukkig het die boere so min vertroue in die polisie dat hulle dikwels nie veediefstal by die polisie aanmeld nie. Hoekom? Omdat inhegtenisneming skaars is, boere selde hul diere terugkry en skuldigbevindings geen impak op die veediefstalsindikate het nie.”

Steyn sê sedert mnr. Bheki Cele, minister van polisie, verlede jaar erken het dat veediefstal ’n nagmerrie is en onderneem het om dit aan te pak, het die situasie vererger. Daarom het die DA nou ’n rits vrae aan die minister gestuur oor die drastiese toename in veediefstal. “Deur hierdie kwessie onder die minister se aandag te bring, hoop ons dat hy gedwonge sal voel om hom minder te bemoei met die eindelose binnegevegte en liewer aandag gee aan die misdaad wat ons land se boere so hard tref.”

Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê veediefstal, wat die ekonomie en die landbousektor R1,4 miljard per jaar kos, het ook ’n emosionele impak op veeboere.

Volgens die forum se statistieke, wat volgens ’n vyfjaargemiddelde bereken word, het veediefstal veral in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap toegeneem. In Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat dui die statistieke egter op ’n afname.

Clack sê hoewel die forum ’n baie goeie verhouding en oop kommunikasiekanale met die polisie het, lyk dit asof al hoe minder boere veediefstal by die polisie aanmeld. 

Die Vrystaat het die derde hoogste aanmelding van veediefstalsyfers in die land. Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou, sê wat kommerwekkend is, is dat behalwe die 36 dorpe waar veediefstal met 10% toegeneem het, is daar nog 25 dorpe wat in ’n 9 maande periode vanaf 1 April tot 31 Desember 2020, dieselfde of meer veediefstal sake gerapporteer het as wat in die vorige finansiële jaar aangemeld is.

Sy meen dié dorpe tesame met die toptien-stasies waar veediefstal aangemeld word, moet ernstige prioriteit en aandag geniet.