“Veediefstal is vandag ’n maklike misdaad,” sê lt.-kol. Johan Smit, Wes-Kaapse koördineerder vir veediefstal van die polisie.

Hy het onlangs op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse tak van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) op Moorreesburg gesê dit word meestal snags gepleeg en dit kan dae duur voordat boere besef van hul diere is gesteel. Volgens hom word min leidrade gewoonlik nóg minder met verloop van tyd. Daarom vra hy alle hulp en samewerking moontlik van boere.

“Dit is ’n groot probleem om met min leidrade gesteelde vee op te spoor, maar dit is belangrik dat boere alle veediefstalvoorvalle moet aanmeld sodat ‘steelpatrone’ vir bepaalde streke saamgestel kan word,” het hy gesê.  

Die polisie kan gehelp word deur onder meer vee gereeld te tel, goeie veeregisters te hou, alle vee te merk, te wéét wie jy aanstel om met jou vee te werk, en te sorg dat daar minstens een baie betroubare werker op die plaas is wat goeie insae het van wat onder werkers en ander mense in die omgewing gedoen en gesê word.

“Dit gebeur soms dat ’n boer sy vee een keer in maande tel, agterkom diere is weg en dit dán by die polisie aangee. As die polisie dan met geen leidrade weens die land tydsverloop nie hond kan haaraf maak nie, word dikwels gesê die polisie doen niks nie.”

Betroubare reënvoorspellings baie moeilik

Dr. Peter Johnston, ’n klimaatkundige aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê dit is baie moeilik om betroubare reënpatrone vir die Wes-Kaap te voorspel. “Verskillende modelle voorspel dikwels lynreg teen mekaar, maar wat geen mite is nie, is dat die temperatuur in die provinsie die afgelope 40 jaar styg. Sedert 2000 is van die 14 warmste jare in die geskiedenis gemeet.” 

Hy het gewaarsku dat klimaatsverandering risiko’s vir die rooivleisbedryf inhou. Dit is soos die verandering in die verspreiding van plae en siektes, die verandering in waterbeskikbaarheid, meer gereelde hittestrestye, swakker groei en voorplantingsvermoë van diere, en ’n laer vleisproduksie asook vleisgehalte.

’n Toename in siektes en vrektes kan daarmee gepaardgaan. Opkomende en ontluikende boerderye gaan veral swaar daaronder ly.

Boere sal hulle moet aanpas by veranderende klimaatstoestande, soos beter skuiling en skadu vir hul diere. Goeie weiveldbestuur sal ook help om die uitwerking van klimaatsverandering teen te werk.