Hulle bly tot hul volgende hofverskyning op 19 Mei in aanhouding.

’n Groep van sowat 30 boere het die derde keer die hofverskyning van adjt.off. M.J. Mokoena, waarnemende bevelvoerder van die polisie op Tweeling, en mnr. Lefias Mahlaba, ’n voorheen veroordeelde veedief, op ’n aanklag van veediefstal bygewoon. Die groep se teenwoordigheid by die hof was in ooreenstemming met Vrystaat Landbou (VL) se siening om volgehoue druk toe te pas sodat misdadigers nie borgtog toegestaan word nie

Dit volg nadat Mokoena en Mahlaba in hegtenis geneem is nadat hulle op heter daad betrap is toe hulle na bewering vyf skape op die plaas van mnr. Danie Muller in die distrik Tweeling wou steel. 

Mokoena is in 1994 ’n boete opgelê nadat hy iemand gewond het toe hy ’n vuurwapen in die openbaar afvuur, en Mahlaba het vantevore ’n skulderkenning van R10 000 op ’n aanklag van veediefstal betaal.

Sers. T.J. Mokoena, die ondersoekbeampte wat die twee aangekeer het, het in ’n vorige borgtogaansoek die hof ook op die openbare belang van die groep boere by die hof gewys.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê van die redes wat landdros D. Matlou vir sy weiering aangevoer het, is dat dit nie in die openbare belang en geregtigheid is dat die beskuldigdes op borgtog vrygelaat word nie. “Boere het hul vertroue in die strafregstelsel verloor, hulle meld nie meer veediefstal aan nie en stel private sekerheidsondernemings aan om hul eiendom te beskerm,” sê sy. “Die landdros het die openbare belang, ontevredenheid en sentiment in die saak met sy besluit in ag geneem.”