Landdros D. Matlou het sy beslissing tot dan voorbehou.

Dit volg op die inhegtenisneming van adjt.off. M.J. Mokoena, waarnemende polisiebevelvoerder op Tweeling, en mnr. Lefias Mahlaba, ’n voorheen veroordeelde veedief, op ’n klag van veediefstal. Die twee is op heter daad betrap toe hulle na bewering vyf skape op die plaas van mnr. Danie Muller in die distrik wou steel. 

Mokoena is in 1994 ’n boete opgelê nadat hy ’n vuurwapen in die openbaar afgevuur en iemand gewond het. Mahlaba het vantevore ’n skulderkenning van R10 000 op ’n klag van veediefstal betaal. 

Sers. T.J. Mokoena, die ondersoekbeampte wat die twee aangekeer het, het in sy getuienis borgtog teengestaan deur die landdros op die openbare belang van die groep boere by die hof te wys. 

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, het in haar betoog teen borgtog onder meer daarop gewys dat veediefstal en polisiekorrupsie ’n wesenlike probleem in die landbou is. Buys het bevestig dat VL reeds in Oktober 2020 mnr. Bheki Cele, minister van polisie, versoek het om polisie-betrokkenheid by veediefstalsindikate en plaasaanvalle te ondersoek. 

Mnr. Deon van der Watt, VL-streekverteenwoordiger by Tweeling, het bevestig dat sowat 30 boere van die omgewing voor die hof byeengekom het. Volgens Van der Watt het hulle voor die beskuldigdes se eerste verskyning aan die staatsaanklaer te kenne gegee dat hulle die aansoek om borgtog sal teenstaan. 

Mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van VL, sê VL sal volhard in sy pogings om veediefstal en ander misdaad wat die produksie van voedsel in die provinsie belemmer, teë te werk.