Op die geleentheid het die polisie onthul Suid-Afrika se moordsyfer is die hoogste in 10 jaar en vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde.

Een ligpuntjie vir die landbougemeenskap is dat statistiek vir moorde en aanvalle op plase en kleinhoewes vir die eerste keer sedert 2007 as deel van die misdaadstatistiek vrygestel is. Dit is danksy volgehoue druk van die VF Plus op die Regering, asook gesprekke tussen dr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier, en Cele.

Daar was altesaam 62 moorde op plase en kleinhoewes, teenoor die vorige jaar se 74. Van die 62 slagoffers was 52 eienaars of bewoners van die plaas of kleinhoewe, nege was plaaswerkers en een was ’n plaasbestuurder. Die meeste moorde was in Gauteng (12). Daar was nege moorde elk in Noordwes en Limpopo, agt elk in die Vrystaat en in Mpumalanga, sewe in KwaZulu-Natal en drie elk in die Oos-Kaap, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap.

Landelike misdaad

Ander misdade wat op plase en kleinhoewes voorgekom het, was 33 huisbrake, ses pogings tot moord, twee verkragtings, twee voorvalle van veediefstal, een roof met ’n vuurwapen, een motorkaping en een ontvoering.

Genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het op die bekendstelling gesê die landelike veiligheidsplan gaan hersien word sodat daar ’n groter impak op plaasmoorde, veediefstal en ander misdaad in landelike gebiede gemaak kan word.

Die totale moordsyfer het met 6,9% of 1 320 voorvalle gestyg tot 20 336 moorde – die hoogste in 10 jaar. Dit kom neer op 57 moorde per dag, en bring die moordsyfer in Suid-Afrika op 35,1 per 100 000 van die bevolking te staan, teenoor die wêreldgemiddelde van 7 per 100 000.

Suid-Afrika verloor een ekonomiese plaaseenheid per dag

Veediefstal het met 7,2% gestyg tot 28 894 voorvalle. Die grootste styging, 14%, was in die Noord-Kaap.

Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, sê daar was sedert die boekjaar 2013-’14 ’n geleidelike styging in die aantal vee wat gesteel word, ongeag die tipe diere.

’n Berekening van die hoeveelheid vee-eenhede wat daagliks oor 365 dae gesteel word, wys watter ernstige omvang dié misdaad aangeneem het: 182 beeste, 251 skape en 117 bokke per dag.

Clack sê Suid-Afrika verloor dus een ekonomiese plaaseenheid per dag. In gevalle waar mense met ’n beperkte hoeveelheid vee boer, word hul lewensbestaan heeltemal uitgewis.

Oor die afgelope vyf jaar wat eindig met die boekjaar 2018, het die geldwaarde van gesteelde vee met R500 miljoen gestyg. 

Verandering moet kom

Sitole het aan die komitee gesê die landelike veiligheidstrategie bied ’n antwoord vir veediefstal. By die Kabinet-lekgotla het ministers beklemtoon hulle is ernstig oor die herlewing van die landelike ekonomie. Sitole het gesê die polisie sal landbou-unies en landelike gemeenskappe nader om vennote te word om te help om misdaad in landelike gebiede teen te werk.

Agri SA het op sy beurt die voortgesette geweld teen die boerderygemeenskap en Suid-Afrikaners in die algemeen ten sterkste veroordeel.

“Moorde en aanvalle op die boerderygemeenskap is te hoog en is onaanvaarbaar. Die publiek en Regering moet kennis neem daarvan,” sê mnr. Kobus Breytenbach, Agri SA se landelike veiligheidshoof. “As meer Suid-Afrikaners en internasionale belanghebbendes druk uitoefen, sal dit lei tot beter optrede om plaasmoorde en -aanvalle te voorkom.”

Trio-misdade

Die sogenoemde trio-misdade, naamlik huis-, besigheidsrooftogte en motorkapings, het die afgelope jaar afgeneem, terwyl dit in die vorige jaar toegeneem het.

“Dit is dié misdade waaraan die boerderygemeenskap die meeste blootgestel is en raak die lewensbestaan van diegene wat in die landbou werk nadelig,” het Breytenbach gesê. “Die vlakke van brutaliteit is te hoog en daadwerklike pogings, ondersteun deur die insamel van inligting, moet reaksietye verbeter en plaasaanvalle voorkom.”

Cele het gesê iewers is die bal laat val. Wat nou moet gebeur is dat die bal opgetel word en die situasie gekorrigeer moet word. Hy het landsburgers gevra om saam met die polisie te werk om misdaad te beveg. Hy het ook beloof dat indien misdaad in Suid-Afrika nie omgekeer word nie, hy en sy bestuurspan uitgeskop gaan word. “Die situasie moet aangepak word met die spoed wat dit verdien en moet blitsvinnig omgekeer word.

“Die ergste ding wat nie in my termyn gedoen kan word nie, is om dieselfde misdaadstatistiek of selfs erger syfers volgende jaar weer te gee.”