“Ons het geweet dié rooskleurige prentjie sou nie vir ewig kon duur nie, veral sodra die land weer sy deure sou oopmaak vir besigheid,” het mnr. Bheki Cele, minister van polisie, gesê met die aankondiging van die misdaadstatistieke van die tweede kwartaal van die huidige boekjaar, wat strek van 1 Julie tot 30 September.

Volgens die statistieke het veediefstal in die tydperk gedaal teenoor die statistieke van die tweede kwartaal van die vorige boekjaar, behalwe in die Noord-Kaap. “Veediefstal is ’n ernstige probleem wat nie net ernstige aandag van die polisie nie, maar ook van ander departemente vereis om dié misdaad hok te slaan,” het Cele gesê.

Van 1 Julie tot 30 September is 7339 gevalle van veediefstal reg oor die land aangemeld. Altesaam 26 322 skape, 14 585 beeste en 13 844 bokke is gesteel.

“As ons van veediefstal wil ontslae raak, sal ons die hele waardeketting moet aanpak, van die bopunt regdeur na die slaghuis waar die gesteelde vleis eindig. Die misdaad, wat ek glo ’n vorm is van ekonomiese sabotasie, moet nie net deur die polisie getakel word nie, maar verg ook die hulp van ander departemente om bystand te bied met die opsporing, naspeuring, bemarking en beweging van vee,” het Cele gesê.

Die kommunale areas in die Oos-Kaap loop steeds die swaarste deur onder veediefstal. Die ses polisiekantore waar die meeste voorvalle van veediefstal aangemeld word, is almal in die Oos-Kaap. Dit sluit in Mount Frere (89 gevalle van Julie tot September), Bityi (78), Sulenkama (74), Mthatha (72), Qumbu (70) en Maluti (70).

Landwyd het veediefstalgevalle wel van maand tot maand in die tweede kwartaal gestyg. In Julie is 2 393 veediefstalsake aangemeld, in Augustus 2 461 en in September 2 485.

Volgens Cele het die vergadering wat met boere in Bethlehem in die Vrystaat plaasgevind het, goed verloop en was daar goeie samewerking ná die spanning wat vroeër gesien is.

Hy het bygevoeg dat veral swart boereorganisasies gevra het vir beter samewerking tussen alle organisasies vir die beveiliging van landelike gemeenskappe, wat alle landbougemeenskappe insluit en nie net gemik sal wees op boere of plaaswerkers nie.

Taakspan

Cele het benadruk dat die taakspan, wat in die Vrystaat aangestel is om veediefstal te ondersoek, onder meer die modus operandi van veediewe sal ondersoek.

“Die provinsiale kommissaris het reeds met vyf sindikate vorendag gekom wat betrokke is by veediefstal in die Vrystaat. “

Die taakspan sal onder meer die waardeketting en die rol wat polisielede in veediefstal speel, ondersoek.

Volgens Cele toon die syfers dat die gebruik en misbruik van alkohol die oorsaak is van honderde moordsake in die tydperk en dat alkoholmisbruik ’n ongunstige uitwerking het in gemeenskappe.

’n Totaal van 101 moorde waarby drank betrokke was, is in die tydperk aangemeld, terwyl 179 sake van poging tot moord, 747 verkragtings en 829 aanrandings aangemeld is.

Altesame 13 plaasmoorde is in die tydperk aangemeld, wat vyf meer is as wat in die tweede kwartaal van die vorige boekjaar aangemeld is.

Altesaam 81 voorvalle van voertuigdiefstal, kwaadwillige saakbeskadiging, inbrake, aanranding, verkragting en poging tot moord is in die drie maande op plase aangemeld. Dit is minder as die 91 gevalle wat in die ooreenstemmende drie maande van die 2018-’19-boekjaar en 94 gevalle wat in die 2019-’20-boekjaar aangemeld is.