In ’n brief aan die lede van die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) skryf me. Isabel Kruger, voorsitter van die veediefstalforum in die Vrystaat, dit raak ’n neiging dat mense hul griewe oor ongeregtighede op sosiale media lug wanneer dit voorkom asof niemand wil luister nie.

“Hierdie media kan jou vriend as deel van jou kommunikasie wees, maar wees versigtig dat dit nie jou grootste vyand word nie.”

Plasings op sosiale media of verklarings kan in verhore gebruik word. Ondeurdagte plasings of verklarings kan die geloofwaardigheid van die skrywer skade berokken.

“Laasgenoemde is rampspoedig vir ’n strafsaak.”

Impak

“Veediefstal is ’n probleem en het ’n groot nadelige invloed op die landboubedryf. Frustrasie en woede is ’n natuurlike uitvloeisel van sake wat sloer of nie opgelos word nie.”

Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingforum, het vroeër vanjaar gesê veediefstal kos die bedryf jaarliks R1,4 miljard en het ’n ernstige ekonomiese en emosionele impak op vee-eienaars.

Boere is al hoe meer geneig om veediefstal nie aan te meld nie. Teen 2018 was 77% van gevalle nie aangemeld nie. Dié persentasies word egter nie meer deur Statistieke Suid-Afrika gepubliseer nie.

Wetgewing

Volgens Kruger beskou die reg enige plasing, selfs al is dit net deur een persoon gelees, as gepubliseerde inligting en kan vervolging daarop volg.

Mense moet dus weet wat die perke op hul reg tot vryheid van spraak is, en bewus wees dat daar ’n verantwoordelikheid op hulle rus om akkurate nuus of inligting weer te gee en om bronne te kan staaf.

Sy sê inligting moet akkuraat wees om ’n stelsel te beveg. Daarom moet inligting wat op skrif deurgegee word, die regte feite en nie persepsies bevat nie.

“Verkeerde inligting rig onherstelbare skade aan.”

’n Plasing of verklaring wat jy maak, of wil maak, moet liefs nie geplaas of aangestuur word indien jy nie bereid is om daarvoor pa te staan nie, aangesien jy daarvoor verantwoordelik gehou kan word.

Met só ’n verklaring of plasing kan die geloofwaardigheid van die persoon betwyfel word voordat die persoon in die hof getuig het. Dit kan ook deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger gebruik word in die strafsaak. Indien die getuienis nie konsekwent is nie, kan die geloofwaardigheid van die saak weer betwyfel word.

“Skriftelike verklarings moet die volle waarheid wees, en nie persepsies of aannames wat die persoon se geloofwaardigheid skade kan berokken nie.”

Geen foto’s van die misdaadtoneel of verdagtes mag aangestuur word nie, al het die saak reeds voorgekom en is die verdagte aangekla. Dit kan lei tot die verhindering van die ondersoek.

Alternatief

Kruger maan dat sake deeglik oordink moet word voor enigeen hul misnoeë op sosiale media uitspreek. Sy sê daar is ander, veiliger alternatiewe.

Sy beklemtoon dat die RPO se veediefstalforum, asook die nasionale vervolgingsgesag en die SAPD se veediefstaleenhede, se hulp altyd beskikbaar is. Boere moet eerstens met die ondersoekbeampte opvolg oor die vordering van sake.