“Ons verloor 90 000 skape, 63 000 beeste en 35 000 bokke per jaar in Suid-Afrika weens veediefstal,” sê mnr. Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en nasionale voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum. Hy was ’n spreker op die RPO in KwaZulu-Natal se streekvergadering op Dundee.

Volgens hom is Suid-Afrikaanse boere boonop baie traag om misdaad by die polisie aan te meld.

“Ons het ongeveer 159 000 gevalle per jaar, maar net 28 000 tot 29 000 daarvan word aangemeld. Wanneer dit kom by veediefstal in die land, is ons onder-rapporteringskoers sowat 80%. Ons weet dus nie regtig wat aangaan nie en kan daarom nie die werklike ekonomiese impak bepaal nie, omdat ons nie die syfers het nie.”

Aanmelding ’n kwessie

Clack sê dis ’n wêreldwye probleem dat misdade op plase nie aangemeld word nie. Amerika, Brittanje en Nieu-Seeland se onder-rapporteringskoerse beloop onderskeidelik 88%, 87% en 62%. Van die redes daarvoor is dat boere dink dis ’n mors van hul tyd om die misdade onder die polisie se aandag te bring, hulle glo dis nie die moeite werd om dit aan te meld nie, hulle beskou die misdade as te nietig om dit aan te meld, hulle vertrou nie die polisie nie of hulle het voorheen swak ervarings met die polisie gehad.

Volgens hom het KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat bykans altyd ’n groot probleem met veediefstal. “In KwaZulu-Natal word veral beeste gesteel, terwyl skaapdiefstal aan die orde van die dag is in die Oos-Kaap. In die Vrystaat is die aantal bees- en skaapdiefstalle omtrent dieselfde.”

Hy is veral bekommerd oor die toename in veediefstal in Mpumalanga. Vergeleke met 2017 het veediefstal in Limpopo verlede jaar met 11% toegeneem en in Noordwes, waar veral bokke gebuit word, met 14%.

“Die Wes-Kaap het ’n baie lae persentasie vir beesdiefstal; slegs 200 tot 220 beeste per jaar word in dié provinsie gesteel.”

Nie groot verskil tussen SA en Australië

Clack was onlangs in Australië waar hy navorsing gedoen het oor plaasmisdade.

“Daar is nie ’n groot verskil tussen die hoeveelheid misdaad wat op plase in Suid-Afrika en Australië plaasvind nie. Gemiddeld word sowat 26% van Suid-Afrikaanse boere deur misdaad op plase beïnvloed, en 18% van Australiese boere.”

Volgens Clack loop Suid-Afrikaanse boere ’n raps meer gereeld deur onder diefstal van plaasmasjinerie, inbrake en brandstigting. Die diefstal van produksiemiddele, kwaadwillige beskadiging van eiendom en diefstal van plaasinfrastruktuur is meer algemeen op Suid-Afrikaanse plase. Australiese boere sukkel weer meer met wilddiefstal en onwettige jag, asook veediefstal.