Dié skape is vermoedelik deel van die 40 skape wat op Vrydag 9 Augustus in Coligny as gesteel aangemeld is.

Die verdagtes verskyn op 10 September in die Stilfontein-landdroshof nadat hulle op 10 Augustus in verband met veediefstal in hegtenis geneem is. Hulle het op 12 Augustus vir die eerste keer in die hof verskyn waarna hulle op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Munisipale verkeersbeamptes het die verdagtes se Toyota Tazz voorgekeer nadat hulle ’n skaap op die agterste sitplek opgemerk het. Nóg twee skape is in die motor se kattebak gevind.

Die verdagtes se verweer was dat hulle die skape in die kattebak weggesteek het omdat hulle nie beboet wou word nie. Die verdagtes kon geen dokumentasie vir die skape verskaf of sê waar hulle die skape gekoop het nie. Gevolglik is die Stilfontein-veediefstaleenheid ontbied om die verdagtes in hegtenis te neem.

Mnr. Willie Clack, nasionale voorsitter van die veediefstalvoorkomingsforum, sê sowat 29% van vermeende veediewe word in hegtenis geneem en 78% van die verdagtes wat in die hof verskyn, word skuldig bevind. 

“Die grootste probleem wat die hofstelsel betref, is die tekort aan bekwame aanklaers. Ons baklei hard vir beter opleiding vir aanklaers. Dit is ook moeilik om verdagtes se skuld te bewys.”

Die grootste probleem rondom veediefstal is om boere te laat besef dat hulle verantwoordelik is vir die beveiliging van hul eiendom, sê Clack.

Hy het verlede jaar ’n studie gedoen om die vlakke van landelike misdaad in die Australiese deelstaat Nieu-Suid-Wallis en Suid-Afrika met mekaar vergelyk. Volgens sy studie maak veediefstal 40% uit van die misdade wat boere in Suid-Afrika raak.

Hy sê dit lyk of boere daarop staatmaak dat die polisie hul eiendom vir hulle gaan beskerm, maar dit is nie die geval nie.

“Dit is jou verantwoordelikheid, die polisie gaan dit nie namens jou doen nie. Die polisie kan misdaad soos veediefstal voorkom as hulle betyds die regte inligting kry, maar dit is jou verantwoordelikheid om jou plaas te beveilig.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.