Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, benadruk egter dat hierdie ’n landswye verskynsel is. Hy sê die probleem bestaan hoofsaaklik by beeste, aangesien kalwers volgens wetgewing eers op 6 maande gemerk hoef te word. Hy sê baie mense tatoeëer of brandmerk ook nie kleiner diere nie, wat hulle makliker teikens maak. Die jong diere word op veilings vir kontant verkoop.

Boere word aangemoedig om al hul diere op dieselfde manier te merk, selfs al is hulle jonger as ses maande. “Dit is nie verpligtend om jonger diere te merk nie, maar ons beveel dit sterk aan om onnodige misverstande met die SAPD te voorkom wanneer voertuie by padblokkades gestop word,” sê Clack.  

Wetgewing

Tydens die veediefstalvoorkomingsforum se nasionale vergadering is daar ’n aanbeveling aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gemaak om die ouderdom wanneer kalwers gemerk moet word, te wysig om te voorkom dat ongemerkte diere verkoop word. Clack sê met dierewelsyn in ag genome sal hulle graag wil sien dat diere op drie maande gemerk moet wees. “En merk is nie gebrandmerk nie, dit is getatoeëer.”

Hy sê hulle versoek ook dat wetgewing aangepas word en ’n basiese beginsel moet geld dat geen ongemerkte diere verhandel mag word nie.

Volgens hom is die enigste manier om diefstal te bekamp “om jou diere op te pas.”

“Tel gereeld, kom gereeld by jou diere. Met planttyd wat tans aan die gang is, wil die boere net plant en kom nie by hulle diere uit nie.” Hy sê daar is ook tans verskeie myne in Gauteng wat stakings beleef en dus talle mense wat nie ’n inkomste verdien nie. Dit kan ook bydra tot ’n toename in diefstal en veediefstal.

Brandpuntstasies

Volgens die amptelike misdaadstatistieke vir die 2017-’18-boekjaar het veediefstal in alle provinsies toegeneem.

Die grootste toename is in die Oos-Kaap aangeteken, gevolg deur KwaZulu-Natal en die Vrystaat. ’n Toename in bokdiefstal is in Mpumalanga aangemeld.

Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie in die Oos-Kaap het veediefstal die afgelope jaar met 3,2% gestyg. Die meeste voorvalle is in die distrikte Mthata, Maluti, Sulenkama en Qumba aangemeld.

Altesaam 30 polisiestasies in al nege provinsies is tydens die nasionale vergadering geïdentifiseer waar die voorkoms van veediefstal baie hoog is. Dit sluit in:

Noordwes – Ventersdorp, Mogwase

Mpumalanga – Amersfoort, Dirkiesdorp

Gauteng – Bronkhorstspruit, Fochville

Limpopo – Lebowakgomo, Matlala/Dennilton

Vrystaat – Harrismith, Selosesha

KZN – Escourt, Dannhauser, Bergville, Amangwe, Ntabamhlophe, Utrecht

Oos-Kaap – Sulenkama, Bityi, Mthata, Mount Frere, Qumbu

Wes-Kaap – Caledon, Beaufort-Wes

Noord-Kaap – Hanover, Groblershoop.

Die nasionale forum stel ook voor dat elke provinsie ’n veediefstalinligtingsentrum (VIS) saamstel met die hulp van boerderygemeenskappe en veediefstaleenhede, as deel van pogings om hoë veediefstal in landelike gebiede te takel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.