Mnr. Basie Erasmus van die plaas Blaauwberg by Melkbosstrand was die wenner van Landbouweekblad en Agri-Expo Livestock se Grooms’ Challenge vir 2018.

Die naaswenner is mnr. William van Rheede van die plaas Milagro by Humansdorp en mnr. Attie Rhode van die plaas Rietvlei by Mosselbaai was derde.

“Ek sê vir Landbouweekblad baie dankie dat hy vir ons die kans gegun het om te wys ons doen goed. By ons bestaan soms ’n ding dat ons net ons werk moet doen. Maar ek is bly Landbouweekblad sien dit is meer as ’n werk. Miskien is hier van die manne wat meer ingesit het as ek om te wen. Ek is dus baie bly vir al die manne wat hier is,” het Erasmus gesê.

Mnr. Breyton Milford, Agri-Expo se bedryfsbestuurder, het by ’n vleisbraaigeleentheid na afloop van die Angus-kampioenskapskompetisie hulde aan die hanteerders gebring.

“ ’n Mens weet nie altyd hoe om vir julle dankie te sê nie. Boere kan hierdie beeste teel soos hulle wil, maar daar’s manne wat hulle moet mak maak. Daar is manne wat hulle moet kosgee en moet was en skeer. Daar is manne wat hulle moet skou. Ek het in die ring gesien hier is van julle manne wat wragtag ’n slag het met skou. Dan is daar weer manne wat lorrie ry en skoonmaak. Dis hoe dit werk in die skoubedryf. Ons weet soms nie hoe om vir dié manne wat so hard agter die skerms werk dankie te sê nie, en daarom het ons verlede jaar die Grooms’ Challenge begin,” het Milford gesê.

Me. Jacolette Kloppers van Landbouweekblad, mnr. William van Rheede van die plaas Milagro by Humansdorp (naaswenner), mnr. Basie Erasmus van Blaauwberg-plaas by Melkbosstrand (wenner), mnr. Attie Rhode van die plaas Rietvlei by Mosselbaai (derde plek), en mnr. Breyton Milford van Agri-Expo. Heléne Booyens

“Baie dankie vir wat julle vir die manne doen. Uiteindelik is dit hulle wat al die skoppe, stampe en stote moet vat en bloed sweet,” het mnr. Willem Swart, kuddebestuurder van die Joyce’s Angus-stoetery, na afloop van die kompetisie gesê.

Landbouweekblad het winterbaadjies ter waarde van onderskeidelik R1 000 en R650 vir die wenner en naaswenner geborg, asook Landbouweekblad-geskenke. Naas braaivleis vir ’n spesiale ete het Checkers ook drie koopbewyse van R500 elk geskenk. Agri-Expo het kontant aan die wenner geskenk.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.