“Jy kan nie ’n onveilige, onpadwaardige voertuig gebruik om mense mee te vervoer nie. Die vragmotors kan ook nie oorlaai word met werkers nie.”

Didiza het die antwoord gegee nadat mnr. Mbulelo Bara, DA-LP, gevra het watter alternatiewe vervoermiddels kan vir plaaswerkers voorgestel word om hul veiligheid te verseker. Hy wou ook weet hoe die departement boere sal ondersteun om dit te kan bekostig om daaraan te voldoen, aangesien hulle reeds onder onredelike finansiële druk is weens die mislukking van die staat om hul veiligheid en lewensbestaan, asook dié van hul werkers, te verseker.

Didiza het gesê dat die landbou soos enige ander bedryf vir uitgawes begroot en oplossings moet vind vir probleme wat hy ervaar. Padwaardige voertuie, wat in ooreenstemming met die vervoerregulasies nie oorlaai word nie, is die geskikte voertuie vir die vervoer van plaaswerkers.

“Ek meen almal sal saamstem dat as jy enige landsburger in jou diens het en jy wil hê dat daardie landsburger moet bydra tot die ontwikkeling van jou besigheid, soos wat plaaswerkers doen, dan moet hul behandeling en werkstoestande wees soos wat arbeidswetgewing voorskryf.

“Dit kan nie aanvaar word dat plaaswerkers wat deur hul arbeid verseker dat Suid-Afrika nasionale voedselsekerheid en groei van die bruto binnelandse produk behou, onwaardig behandel word nie.”

Die onveilige manier waarop plaaswerkers vervoer word, is al in die Wes-Kaapse wetgewer bespreek, veral nadat vanjaar ’n paar ongelukke voorgekom het van vragmotors wat plaaswerkers vervoer.

Ingevolge regulasies mag mense slegs op ’n vragmotor vervoer word wanneer daar ’n dak of bedekking 350 mm bo hul koppe is wanneer hulle sit en sowat 900 mm wanneer hulle staan.

Cloete-kwessie punt van die ysberg

Die kwessie oor mnr. Ivan Cloete is net die punt van ’n ysberg van die probleme wat met grondadministrasie ondervind word, het Didiza gesê.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die Wes-Kaap het verlede maand ’n uitsettingsbevel aan Cloete gegee om die plaas Colenso by Darling te verlaat om plek te maak vir ’n groep MK-veterane, onder wie ’n oud ANC-LP.

Didiza het die antwoord gegee nadat mnr. Mlindi Nhanha, DA-LP, wat wou weet of dit haar departement se nuwe beleid is om swart boere wat reeds lank suksesvol boer, van hul grond te skop om dit aan die elite met ANC-bande te oorhandig. Hy het Didiza ook gevra of sy Cloete verskoning gaan vra as hierdie aanname nie waar is nie. Hy wou ook weet of sy mnre. Vuyani Zigana van Kokstad en John Mabasa, wie se familie al sedert 1886 op hul plaas buite Ermelo boer, ook verskoning gaan vra.

Nhanha het gesê daar is talle ander swart boere wat soortgelyke mishandeling ondergaan.

Didiza, wat nie wou uitbrei oor die Cloete-kwessie nie, het gesê sy het reeds die verslag ontvang van wat daar gebeur het. Regstellende stappe sal gedoen word en die betrokke amptenare sal verantwoordelik gehou word vir omgerymdhede.

Sy het benadruk dat daar nie net in die Cloete-geval nie, maar ook in ander gevalle ongerymdhede gevind is.

’n Verslag oor die Zingana-kwessie is voltooi en die departement is besig om die aangeleentheid by te lê.