“Boere moet hul veiligheidstoerusting nagaan en seker maak alles is in ’n goeie werkende toestand, terwyl hulle ook seker maak dat almal op die plaas bewus is van wat van hulle verwag indien ’n probleem of krisis ontstaan.”

Só sê mnr. Tommie Esterhuyse, nuut verkose voorsitter van Agri SA se veiligheidkomitee. 

Veediefstal

Volgens Esterhuyse het veediefstal die afgelope jaar aansienlik toegeneem. Hy maan boere om ook vir dié misdaad op die uitkyk te wees en om verdagte mense of voertuie vinnig by hul plaaslike polisiekantoor of veiligheidstrukture aan te meld.

“Veediefstal is tans meer georganiseerd as in die verlede. Die aantal diere wat per voorval gesteel word, is ook meer,” sê Esterhuyse. “Dit is een van die kwessies wat ons Maandag tydens ’n vergadering met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en verskeie hoëvlak-bestuurslede van die polisie bespreek het.”

Sitole het aan die komitee bevestig dat hulle reeds besig is met stappe om toe te sien dat veediefstaleenhede landwyd versterk word.

Die polisie se omkeerstrategie is ook op die vergadering bespreek, met landelike veiligheid as een van die belangrikste afdelings van dié strategie. Sithole het luidens ’n verklaring van Agri SA op die vergadering gesê dat dit sy en die polisie se strewe is om teen 2030 ’n veiliger landelike omgewing te skep deur hul grondwetlike verantwoordelikhede na te kom. 

Geweldadige betogings

Mnr. Kobus Breytenbach, voormalige voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê hulle het op die vergadering ook sterk standpunt ingeneem oor geweldadige betogings en die polisie se optrede in dié verband. Sulke optogte, veral waar paaie en infrastruktuur beskadig word, stel nie net gemeenskappe in gevaar nie, maar het ook ekstra koste vir die bedryf en boere tot gevolg.

Genl. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, sê die toename in protesoptogte is ’n bron van kommer vir die organisasie: “Dit is erg ontwrigtend vir padverkeer en bedreig lewe en eiendom.” 

Statistiek

Van Zyl sê volgens die syfers wat TLU SA oor plaasmoorde en -aanvalle byhou, het die aantal moorde en aanvalle vergeleke met verlede jaar gedaal. “As dit so voortduur, sal dit die eerste afname sedert 2011 wees.”

Luidens TLU SA se statistiek is 48 moorde en 329 aanvalle tot dusver vanjaar op plase aangeteken. Verlede jaar is 82 moorde en 423 aanvalle aangeteken.

Van Zyl sê in etlike van die gebiede wat deur misdadigers geteister word, sien hulle nouer samewerking tussen die polisie en die gemeenskap. “Onderlinge skakeling en die verspreiding van toepaslike inligting via sosiale mediakanale het tot gevolg dat verdagte bewegings en mense vinniger onder die aandag van plaasbewoners gebring word.”

Dieselfde neiging word in die Vrystaat gesien. Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, sê die betrokkenheid en paraatheid van landbougemeenskappe by die bevordering van hul veiligheid dra daartoe by dat plaasaanvalle in die provinsie afgeneem het.

Die aantal moorde in die provinsie was egter vanjaar meer as verlede jaar, sê sy in die organisasie se jongste nuusbrief. Die organisasie se veiligheidsafdeling het vanjaar altesaam 30 plaasaanvalle aangeteken, waartydens ses slagoffers vermoor is. Verlede jaar was daar in dieselfde tydperk 57 aanvalle in die provinsie, waartydens drie moorde gepleeg is. 

Voorkoming

Volgens Vrystaat Landbou se syfers is 23 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom. Die voorkomings is deur die organisasie saam met die polisie in die volgende gebiede bewerkstelling: Ficksburg (een), Kroonstad (twee), Bloemfontein (drie), Phuthaditjhaba (een), Smithfield (drie), Thabong (twee), Trompsburg (drie), Welkom (vier) en Zamdela (vier).  

Volgens Buys is die voorkomings danksy verskeie redes. “Dit vind plaas as gevolg van voorafinligting wat vanaf landbougemeenskappe en die polisie bekom word waar voornemende aanvallers navrae rig rakende artikels op plase en oor eienaars,” sê sy. “Dié inligting word dan aan die boere en/of die polisie deurgegee.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.